Louise Gevers 

As jy nóú swyg en daar kom van 'n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” Ester 4:14, 1983-vertaling
 
As kind was ek lief om na feëverhale te luister en het dan gesê: "Ek wens ek was in daardie tyd gebore sodat ek in 'n kasteel kon bly, pragtige, lang rokke dra en in 'n koets ry." My ma het my dan geamuseerd verseker dat elkeen op presies die regte tyd gebore word, en dit aan my oorgelaat om hierdie belangrike waarheid te oordink.
 
Mordegai het iets soortgelyk vir sy niggie, Ester, gesê. Ester is nie in 'n kasteel gebore nie, maar sy is uit baie meisies gekies om koning Ahasveros se koningin te word nadat koningin Vasti sy bevel verontagsaam en hy haar verban het. Ester was mooi en sy het ook 'n goeie karakter gehad en "Die koning het meer van Ester gehou as van enigeen van die ander vrouens en hy was meer in sy skik met haar as met enige ander jongmeisie."(Ester 2:17)
 
Dit was nou nie juis die ideale manier om koningin te word nie, maar dit het Ester op die regte plek geplaas om later haar volk te red. Die naam God word nooit in die boek Ester genoem nie en tog moet ons onthou dat Hy die hart van mense sien en dat dit Hy is "wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar … " (Daniël 2:21-22) Soos die verhaal ontvou, word dit duidelik dat God die weg vir Ester gebaan het en dat Hy deur alles by haar was.
 
Alhoewel Ester jonk was het sy in Mordegai 'n opregte, godvresende raadgewer gehad. Sy kon sy wysheid en raad vertrou en hy het vir haar en hulle volksgenote omgegee. Toe hy haar vertel van die komplot van twee amptenare om koning Ahasveros om die lewe te bring, het sy die koning gewaarsku. Later toe Haman beplan om Mordegai en die Jode dood te maak, het Ester sy (Mordegai) advies oor wat om te doen, ernstig opgeneem selfs al het sy as koningin magteloos gevoel om iets te doen.
 
Mordegai se boodskap aan haar inspireer haar: "As jy nóú swyg en daar kom van 'n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!” (Ester 4:14) Ester besluit op 'n plan van aksie om haar mense te red alhoewel sy bewus was dat as sy nie guns by die koning vind nie, sy haar lewe kon verloor. Sy soek egter eers guns by God.
 
Sy beveel al die Jode van Susan om te vas: “Julle moet drie dae, dag en nag, niks eet en drink nie. Ek en my kamerpersoneel sal ook vas. Daarna sal ek na die koning toe gaan, al is dit teen die wet. As ek moet omkom, moet ek maar omkom.” (Ester 4:16) Ester het egter nie gesterf nie.
 
Die koning steek sy goue septer uit en Ester se lewe word gespaar en dit stel haar in staat om haar mense te red en ook te sien hoe geregtigheid seëvier toe Haman gehang word aan die galg wat hy vir Mordegai, wat nie voor hom wou buig nie, voorberei het.
 
Waar bevind jy jou in hierdie tyd in die geskiedenis? Niemand is te belangrik of te nederig om mense van ongeregtigheid te red, genesing te bevorder en God te eer nie. Ons leef in uitdagende tye wat verlang dat mans, vrouens en kinders moet opstaan vir God en sy wil moet doen.
 
Gebed: "En mag die God van vrede, wat die groot Herder van die skape, ons Here Jesus, uit die dood uitgelei het deur die bloed van die ewige verbond, julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen, terwyl Hy in ons dit doen wat voor Hom welbehaaglik is, deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid behoort, vir ewig en ewig! Amen! (Hebreërs 13:20-21, 2020-vertaling)