Louise Gevers 

Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge? Lukas 12:24-26, 1983-vertaling
 
Dit is heel moontlik vir jou moeilik om op 'n wintersoggend uit 'n snoesige bed op te staan – miskien enige oggend – maar hoe voel jy oor die dag wanneer jy wakker is en moet opstaan? Omhels jy die dag met blydskap omdat jy weet God is by jou, maak nie saak wat gebeur nie, en sê jy: "Here dankie vir nog 'n dag om te leef want 'deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan [U] ontferming nie, dit is elke môre nuut.'" (Klaagliedere 3:22-23), of kla en kerm jy, draai om en probeer wanneer jy jou oë oopmaak al die bekommernisse uit jou gedagtes verban?
 
Miskien het die gebeure van die vorige aand of hoe jy geslaap het (of nie) 'n invloed op jou gemoedstoestand die volgende oggend, maar ons reaksie word uiteindelik bepaal deur die stand van ons verhouding met God. In vandag se teksvers ontbloot Jesus die nutteloosheid van bekommernis wanneer hy vra: "Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so 'n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?"
 
Jesus wys daarop dat ons ons oor onbelangrike dinge kwel en Hy maak dit duidelik dat bekommernis en vertroue in teenstelling met mekaar is: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; … maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. (Lukas 12:22-24)
 
Bekommernis is deel van die lewe, altyd op die loer om, indien ons dit toelaat, ons as niksvermoedende slagoffers dag of nag aan te val wat betref ons gesondheid, finansies, verhoudings, eintlik enigiets wat ons welstand kan beïnvloed. Maar Jesus sê: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My." (Johannes 14:1) Deur die bron van ons bekommernis te erken – ons eie magteloosheid in die groter opset van die lewe – bevry ons onsself sodat ons God volkome met al ons probleme kan vertrou. Deur ons met positiwiteit te bewapen, kan ons die vyand se jongste probleem wat hy oor ons pad bring en wat ontwerp is om negatiwiteit en wanhoop aan te help, afweer.
 
As ons leer om God volkome te vertrou en besef dat Hy ons liefhet, hoef ons ons nie langer oor die toekoms en elke ander belangrike saak in ons lewe te bekommer nie. Bekommernis oor waar ons werk gaan kry, genees gaan word, die motor kan laat herstel, of wat ook al die probleem is wat ons mag hê, is in die Here se bekwame hande en vrede is ons s'n.
 
Bekommernis is iets wat altyd 'n opsie is in ons reaksie tot enige probleem, maar so ook is die opsie om God te vertrou. Laat ons ons eerder aan Hom oorgee.
 
Jesus sê: "Soek eerder sy koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word." (Lukas 12:31)
 
Gebed: Ek het U lief Here, want U het my gered. Skenk aan my die nodige begrip en vrede, en help my om te groei. Amen