Louise Gevers 

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op 'n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. … Toe het ek die Here hoor vra: Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”  Jesaja 6:1,8, 1983-vertaling)
 
“Hier is ek! Stuur my!”
 
Het jy al ooit nagedink oor hoe God sleutelfigure in die Bybel geroep het om Hom te dien? Ek het, en my waarneming is dat dit nooit vir Hom te moeilik was om elke keer op merkwaardig verskillende maniere úit te reik na die individue wat Hy vir spesifieke sendings geïdentifiseer het nie. Op die regte tyd het Hy Homself op 'n wonderlike manier geopenbaar en sy eksklusiewe kennis van 'n spesifieke persoon se hart en vermoëns getoon wanneer Hy by daardie persoon betrokke raak, en sodoende het Hy vir elkeen 'n unieke ondervinding geskep.
 
Vir Jesaja was dit duidelik die visioen van God in al sy majesteit wat hom oorweldig en diep geraak het (Jesaja 6:1-8), maar sy vertroue het ook toegeneem nadat die seraf sy mond met 'n gloeiende kool aangeraak en hy die woorde gehoor het: "jou oortredinge [is] vergewe, jou sonde [is} versoen.” Jesaja het onmiddellik op die Here se vraag gereageer.
 
Vir die apostel Paulus was 'n verblindende lig wat tot blindheid gelei het, deel van die intense omstandighede toe Jesus hom geroep het: "Hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Handelinge 9:4) Toe hy van die grond af opgestaan het was hy blind vir drie dae en het niks geëet of drink nie. (Handelinge 9:8-9)
 
Wat elkeen van hierdie mense besef het, was dat God se missie nie oor hulle en hulle onvermoë gehandel het nie, maar oor God se kragtige vermoë en oor dit wat Hy deur hulle sou doen met die hulp van sy Gees wat hulle toerus en bekragtig.
 
As jy die keuse kon kry om een van hierdie mense wat Hy geroep het te wees, watter scenario sou jy vir jou wonderlike ontmoeting verkies?
 
Persoonlik hou ek baie van God se roeping van Moses uit die brandende bos; en Samuel wat met die verwondering van 'n kind in die nag wakker geword het toe God hom by die naam geroep het. Maar, wat miskien my verbeelding die meeste aangryp en waarmee ek die beste kan identidiseer, is God se sagte, maar tog besliste doelgerigtheid in sy woorde aan Jeremia: "Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel." (Jeremia 1:5)
 
God roep vandag steeds mense vir sy missie, Hy verskyn steeds aan hulle op maniere wat hulle aandag trek, soms selfs deur dramatiese gebeure, deur die letterkunde of deur 'n versoek. Soms is dit egter deur die "fluistering in die windstilte" (1 Konings 19:12) soos toe die Here met Elia gepraat het, wat hulle in hulle harte hoor.
 
Wanneer die Here ons roep, sal Hy ons lei en toerus soos Hy met die mense van die Bybel gedoen het. Sal ons, soos Jesaja, sonder enige twyfel en gewillig antwoord en sê: “Hier is ek! Stuur my!"
 
Waarvoor roep God jou vandag?
 
Gebed: Genadige Here God, maak my sensitief vir die leiding van u Gees, en maak my gewillig om op u roepstem te antwoord. Amen