Louise Gevers 

“Laat staan haar,” het Jesus gesê. “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Markus 14:6, 1983-vertaling
 
Die gee van 'n geskenk neem tyd, energie en geld in beslag om daardie spesiale iets te vind wat die moeite werd sal wees vir die persoon wat dit gaan ontvang. Terselfdertyd maak dit jou kwesbaar, aangesien die geskenk jou idee is van wat jy dink hulle vreugde sal bring. Wat van 'n geskenk vir Jesus, kan enigiets goed genoeg vir Hom wees?
 
Maria, 'n getuie dat Jesus haar broer uit die dood opgewek het was nou vol berou dat sy hom berispe het omdat Hy nie vroeër gekom het nie. Met begrip en oorgawe het sy nou haar Here aanbid. Niks was te kosbaar om vir Hom op te offer nie!
 
Maria het sonder om te huiwer en sonder 'n begroting, uit haar hart uit vir Hom 'n geskenk gegee – 'n wonderlike gebaar van liefde en aanbidding – en Jesus het dit onmiddellik as sulks erken. Sy mag miskien 'n duur parfuum gekoop het, maar haar liefde en toewyding was veel meer werd as die baie duur geskenk wat sy oor Hom uitgegiet het.
 
Jesus het die diepte van Maria se toewyding erken: "Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam gesalf as voorbereiding vir my begrafnis" (Markus 14:8) en haar edel daad geprys deur die betekenis daarvan belangriker as blote vriendelikheid of vrygewigheid te ag. Maria se aggeïnspireerde daad kom op 'n tyd toe niemand nog bewus was wat daar op Jesus tydens die Pase gewag het nie.
 
Waarom het Judas en die ander dissipels dit vir haar moeilik gemaak, "teen haar uitgevaar" (Markus 14:5) – en kon hulle nie verder sien as die koste van die parfuum nie en waarom was die uitgiet daarvan, selfs op Jesus, vir hulle net 'n vermorsing? Hulle was almal volgelinge van Jesus, maar nie almal se harte was reeds ontvanklik vir sy woorde nie.
 
Anders as Maria se onselfsugtige vrygewigheid, was Judas se skynheilige teregwysing in selfsug en gierigheid gegrond – nie in besorgheid oor die armes nie. (Johannes 12:4-5) Sy verraad van Jesus was op hande. Die dissipels het duidelik nie hulle Meester en sy leringe ten volle verstaan nie. Harte wat ontvanklik is vir Jesus se woorde oordeel ander met sagmoedigheid.
 
Ons verhouding met Jesus is die belangrikste verhouding wat ons kan hê. Hoe naby ons aan Hom wil wees is in ons hande, en dit beïnvloed ons houding teenoor Hom en ander. Ons moet nie ander veroordeel of afdwaal van sy weë nie. Hy hou die sleutel tot die ewige lewe vir almal.
 
“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met 'n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots." (Matteus 7:24-25)
 
Gebed: Here Jesus, U ken my ten volle, U het my lief en deur u wysheid en genade voorsien U in my unieke behoeftes. U het u liefde aan my bewys en U is my kampvegter op die moeilike lewenspad. Open my oë vir u Woord en verander my, soos Maria, van binne sodat my hart kan oorloop van liefde vir U. Amen