Louise Gevers 

Maar Naomi het weer vir hulle gesê: “Gaan terug, my dogters. Waarom sou julle saam met my wou kom? Het ek nog enige hoop om seuns in die wêreld te bring, sodat julle met hulle sou kon trou? Rut 1:11, 1983-vertaling
 
Alhoewel die mening is dat liefde die basis is vir 'n betekenisvolle verhouding, is 'n verhouding meer kompleks as dit, en met omstandighede wat gereeld verander, benodig dit ook toewyding. Lojaliteit teenoor mekaar in goeie en slegte tye is die gom wat 'n verhouding bymekaar hou. Lojaliteit is ook meer betroubaar as gevoelens wat maklik beïnvloed kan word deur sake buite ons beheer, soos Naomi dan ook ondervind het.
 
'n Hongersnood in Betlehem het daartoe gelei dat Naomi, haar man en twee seuns weggetrek het na Moab. Na haar man se dood, het haar twee seuns met Moabietiese vroue getrou. Die seuns het daarna ook gesterf wat die drie vroue as weduwees agtergelaat het. Naomi, diep bedroef en in pyn, het besluit om na Betlehem terug te gaan.
 
As 'n weduwee wat nie langer seuns gehad het nie, het sy niks gehad om aan haar skoondogters te bied nie, behalwe armoede en bitterheid en het hulle daarom vrygestel om na hulle families terug te keer. Naomi was van mening dat "die Almagtige het die lewe vir my baie bitter gemaak. My lewe was vol toe ek hier weg is, maar die Here het my leeg laat terugkom. … die Almagtige het 'n ramp oor my gebring.” (Rut 1:20-21)
 
Orpa het in trane haar vryheid aanvaar maar Rut het dit beslis geweier, wat tot Naomi se vraag gelei het: "Waarom sou julle saam met my wou kom?"
 
Miskien was dit Naomi se vriendelikheid, krag en waardigheid wat deur haar pyn sigbaar was, of haar gewilligheid om op 'n offervaardige manier die engiste blywende menslike vertroosting wat sy oorgehad het te laat gaan en aan haar seuns se vroue hulle vryheid te skenk om na hulle families terug te keer, wat Rut geraak het. Rut se antwoord vertoon algehele toewyding aan haar skoonma en dit wat sy verteenwoordig. Rut is geïnspireer om Naomi en haar God te vertrou, en om haar volkome te verbind tot Naomi se land en haar mense, wat die toekoms ook al mag inhou.
 
" … want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.” (Rut 1:16-17)
 
En die Here het hulle geseën.
 
In Betlehem het Naomi se bitterheid verdwyn toe Rut met die losser, Boas, 'n familielid van Naomi, getroud is en die Here hulle met 'n kindjie, Obed, geseën het. Obed was op sy beurt die oupa van koning Dawid, en 'n voorvader van Jesus, die Verlosser van almal.
 
Anders as Naomi, sê ons Verlosser nie: "Waarom sal julle saam met my wil kom nie?" Hy "het die woorde wat ewige lewe gee"(Johannes 6:68) en Hy wil dat ons Hom volg. Hy praat eerder met ons soos Hy met die ryk jongman gepraat het wanneer Hy sê: "Kom dan terug en volg My!" (Markus 10:21)
 
Hoeveel meer as Rut moet ons nie bereid wees om vir die Verlosser van die wêreld ons ou lewe en alles in dit agter te laat nie? So sal ons die vreugde om die pad saam met Hom te loop en sy seëninge kan beleef.
 
Gebed: Liefdevolle Heer, slegs u teenwoordigheid kan 'n tydperk van rou in 'n dans verander en lig in ons donkerte bring. Help ons om ons met blydskap aan U oor te gee. Tot u eer alleen. Amen