Louise Gevers 

Hierop het Moses geantwoord en gesê: “Maar as die Israeliete my nie glo nie, en hulle nie na my luister nie? As hulle dalk sê, ‘Die Here het nie aan jou verskyn nie’?” Die Here sê toe vir hom: “Wat het jy daar in jou hand?” Eksodus 4:1-2, 2020-vertaling
 
My kleindogter is twee en 'n half jaar oud en sy verstom my met haar eindelose dors na kennis en al haar vrae. Soms, selfs nadat ek haar deeglik geantwoord het, sal sy weer vra: "Hoekom?" Sy bevraagteken elke keer my antwoord en herhaal die proses met elke daaropvolgende antwoord.
 
Ons weet God het nie kleinkinders nie, maar soos klein Audie hou sy kinders nooit op om Hom vrae te vra nie en dit maak nie saak hoe briljant of swak die vraag is nie, dit verwar Hom nooit nie. Van die tyd dat Hy Moses geroep en gesê het: "Gaan dan nou! Ek stuur jou na die farao om my volk, die Israeliete, uit Egipte uit te lei.” (Eksodus 3:10) het 'n onwillige Moses begin om vir Hom vrae te vra.
 
“Wie is ek, dat ek na die farao kan gaan en dat ek die Israeliete uit Egipte kan lei?” (Eksodus 3:11) en “Kyk, as ek by die Israeliete kom en vir hulle sê, ‘Die God van julle voorvaders het my na julle gestuur,’ en hulle vra my dan, ‘Wat is sy naam?’ (Eksodus 3:13) is redelike vrae, maar getuig duidelik van Moses se gevoel van hulpeloosheid en selftwyfel wanneer hy oor hierdie oorweldigende taak nadink. Hy is net 'n skaapwagter wat sy skoonpa se skape oppas.
 
Sy vrees om na die farao te gaan en die vermetelheid om boonop farao se arbeidsmag te wil verwyder, asook sy onkunde oor sy geloofwaardigheid onder sy eie mense, het Moses se denke oorheers. Wat God van Moses gevra het, was 'n reuse taak – 'n lewenstaak. En hy het God nie werklik geken nie.
 
God se wyse antwoorde plaas alles egter in perspektief – Hy is "Ek Is" en Hy is in volle beheer en alles is in plek vir sy weldeurdagte reddingsplan – behalwe die leier. God kom tot die punt met die vraag: "Wat het jy daar in jou hand?”
 
Die slang wat God van die staf in Moses se hand maak, is vir hom 'n bewys van wat God kan doen. Dit gaan nie oor Moses se swakhede of onvermoë nie, maar wel om hom te onderwerp aan die kragtige vermoë van God en 'n gewilligheid om Hom toe te laat om hom (Moses) te gebruik net soos hy is – die eerste treetjie.
 
Is ons nie ook soos Moses nie? Menslik en vol selftwyfel, skram ons dikwels weg om op God se roepstem te antwoord. Maar wanneer ons dit wat ons in ons hand het vir Hom gee – daardie simbool van wat ook al God aan ons gegee het om ons te maak wat ons is – sal Hy sy doel verwesenlik en ons die taak wat Hy aan ons opgedra het.
 
'n Honger seuntjie het gegee wat hy gehad het –vyf brode en twee vissies – en Jesus het 'n fantastiese wonderwerk gedoen deur vyfduisend mense te voed en so die geloof van die mense laat groei. (Johannes 6:9)
 
Wat God van ons vra, is dieselfde wat Hy van Moses gevra het: om dit wat ons deur sy genade van Hom ontvang, beskikbaar te stel vir gebruik in sy koninkryk. Deur die eeue het God sy krag sigbaar gemaak deur mense wat hulle aan Hom oorgegee het, en Hy gaan vandag steeds voort om dit te doen.
 
Sy vraag aan ons is: "Wat het jy daar in jou hand?"
 
Gebed: "Wie is soos U onder die gode, Here? Wie is soos U, majestueus in heiligheid, ontsagwekkend in lofwaardige dade? U wat wonders doen," (Eksodus 15:11) Mag u krag in my werk en u Naam deur my verheerlik word. Amen