Ben Fourie 

“Ja gras verdor, 'n blom verwelk, maar die woord van ons God hou stand vir altyd.”  Jesaja 40:8, 2020-vertaling
 
Die boek Jesaja bestaan uit drie dele en meer as een skrywer het daaraan gewerk. Met hoofstuk 40 begin die tweede hoofdeel. Hier word wegbeweeg van die tyd toe Jesaja geleef het. Die historiese Jesaja is in die jaar 740 v.C. tot profeet geroep en was nog steeds as profeet werksaam met die aanval op Juda deur Sanherib in 701 v.C. Die tydvak wat deur hoofstuk veertig ingelui word is egter meer gemik op die bannelinge wat in 597 v.C. deur Nebukadnesar weggevoer is.
 
Hoofstuk 40 begin met 'n trooswoord aan hulle wat ver van hulle land en veral ver van die sentrum van aanbidding is. Alhoewel Nebukadnesar die tempel gestroop en vernietig het, was die plek waar die tempel eers gestaan het nog vir die Jode in ballingskap hulle godsdienstige fokuspunt en die wat in die land agtergebly het, het selfs nog hulle offers daar gebring. 'n Mens moet die hele hoofstuk 40 lees om die pragtige beloftes wat God vir sy verstrooide volk maak te kan begryp.
 
Met beeldryke taal word Hy geteken as die Een wat met krag sy volk sal verlos. In Jesaja 40:12 hoor ons spesifiek van sy almag, byvoorbeeld dat hy “met 'n handskaal die berge weeg”. Tog is God nie net hierdie kragtige wese nie, hy is ook die liefdevolle herder van vers 11 en hy gee volgens vers 29 aan die vermoeides krag.
 
Kon die ballinge al hierdie dinge glo? Hoe kon hulle weet dat al hierdie beloftes waar sou word? Vasgevang in die vreemde land met vreemde gode en gewoontes moes die ballinge seker ook maar gewonder het. Omdat God mense so goed ken, het Hy geweet dat daar die sou wees wat maar skepties sou staan oor al die beloftes. Vir hulle gee God die boodskap van ons teksvers. Hy gebruik die beeld van gras wat verdor en 'n blom wat verwelk om die tweede deel van die vers in perspektief te plaas. Aardse dinge is verganklik. “maar die woord van ons God hou stand vir altyd.” So is dit ook bewys, want in die regeringstyd van koning Kores begin die terugkeer van die ballinge na hulle land. Mettertyd sou die tempel en die stad se mure herbou word en kon hulle God weer op die heilige plek aanbid. God se beloftes aan die volk word waar. Sy woord hou inderdaad stand vir altyd, ook vir my en vir jou.
 
Gebed: Baie dankie dat u woord nooit verander nie en dat u beloftes altyd waar word. Amen