Ben Fourie 

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.” Hebreërs 4:12, 2020-vertaling
 
“…en die swaard van die Gees – dit is die woord van God.” Efesiërs 6:17b, 2020-vertaling
 
Ek is 'n swak televisiekyker, maar vang so hier en daar saam met my vrou stukkies van 'n program op. Onlangs vra iemand vir een van ons bekendste kokke wat hy as onontbeerlik in sy kombuis beskou. Sonder om eers na te dink antwoord hy “'n skerp mes.” Ek stem eenhonderd persent met hom saam. Daar is min dinge in die lewe wat 'n mens so kan frustreer as 'n stomp mes of jy nou 'n top kok is, of net gou 'n perske wil afskil, 'n skerp mes is onontbeerlik.
 
Dit is egter nie net waar van 'n mes nie, maar van baie in die lewe. Enige taak word vergemaklik en dikwels eers moontlik wanneer 'n mens die regte gereedskap gebruik, of dit nou 'n goeie pen of 'n goeie rekenaarprogram is, solank dit “skerp” genoeg is vir die taak waarvoor ek dit benodig. Die onontbeerlike “gereedskap” wat ons nodig het om mense tot geloof in God te bring, is die woord of boodskap wat van God af kom. Hoe geskik is hierdie “gereedskap” vir die uitsonderlike groot taak?
 
Die skrywer van die brief aan die Hebreërs het geen twyfel aan hoe effektief die woord is nie. Hy begin deur dit lewend te noem. Baie mense dink en sê dat die boodskap van die Bybel verouderd is en niks vir die moderne mens te sê het nie, maar God se woorde raak nooit oud nie, dit is en bly lewend. Preke kan dalk soms flou wees, maar die Woord self is kragtig en energiek. Die skrywer praat van ‘n tweesnydende swaard, maar sê die woord is nog baie skerper as dit. Paulus gebruik ook die beeld van die woord as 'n swaard wanneer hy aan die Efesiërs skryf, maar hy bring 'n verdere baie belangrike dimensie by – die Heilige Gees. Die woord van God is die swaard van die Gees. Ja, ons gebruik nie God se “gereedskap” in isolasie nie, God se Gees is self aan die werk in menseharte en Hy werk deur die woord.
 
Gebed: Ons kan nie genoeg dankie sê dat U ons toegerus het met 'n vlymskerp swaard om deur die soms baie harde kors rondom mense se harte te sny sodat hulle u boodskap kan hoor en dit hulle eie kan maak nie. Amen