Ben Fourie 

“En daarom dank ons God onophoudelik dat julle, nadat julle die woord van God van ons ontvang het, dit nie as 'n woord van mense aanvaar het nie, maar waarlik as die Woord van God – dié Woord wat werksaam is in julle wat glo.” 1 Thessalonisense 2:13, 2020-vertaling
 
Die brief wat Paulus aan die mense in Thessalonika skryf is waarskynlik die heel eerste brief wat Paulus aan 'n gemeente geskryf het en dalk ook die oudste van die boeke in die Nuwe Testament. Paulus skryf die brief teen die einde van 50 n.C., heel moontlik vanuit Korinthe. In Handelinge 17 lees ons hoe Paulus op die tweede sendingreis in Thessalonika aangekom het en soos sy gewoonte was as hy in 'n nuwe plek kom, preek hy in die sinagoge. In die geval het hy op drie agtereenvolgende Sabbatte gepreek.
 
Die Jode hou egter nie van sy boodskap oor Jesus nie en Paulus begin om die boodskap aan die heidene van hierdie groot handelstad te bring. Ons sien dat enkele van die Jode, asook 'n groot groep van die Grieke onder wie baie van die vooraanstaande vroue in die stad, gelowig geword het en dat 'n gemeente daar tot stand gekom het.
 
Die Jode wat nie wou glo nie, het egter 'n klag by die stadsowerheid gelê dat hierdie leerstelling tot oproer kan lei. Die broeders het toe vir Paulus en sy reisgenote in die nag na Berea weggestuur. Van hier is hy verder op sy sendingreis en vanweë sy bekommernis oor die jong gemeente van Thessalonika wat hy so inderhaas moes verlaat, stuur hy van Athene af vir Timoteus om die gemeente te besoek en te versterk. Nou het Timoteus teruggekom met die goeie nuus dat dit goed gaan met die gelowiges in Thessalonika.
 
In ons teksvers dank Paulus die Here spesifiek dat hierdie groep gelowiges dit wat Paulus vir hulle vertel het werklik as die Woord van God aanvaar het. Dit is waarlik 'n wonderwerk van die Gees dat dit so was. Hierdie mense het niks van Jesus af geweet nie en tog kom hulle tot geloof in Hom bloot deur wat Paulus vir hulle vertel. Al het die meeste van ons seker in 'n christelike huis grootgeword, bly dit steeds ‘n wonderwerk dat ook ek en jy deur die hoor van sy Woord gelowig geword het.
 
Gebed: Ons dank U o Heilige Gees dat U die geloof in mense se harte werk deur die Woord. Amen