Ben Fourie 

“Hy was die metgesel van die prokonsul Sergius Paulus, wat 'n verstandige man was. Die prokonsul het Barnabas en Saulus laat roep, omdat hy graag die woord van God wou hoor.” Handelinge 13:7, 2020-vertaling
 
Daar is so baie name in die Bybel wat 'n mens net een of twee keer hoor, mense wat net 'n klein kameerolletjie speel en dan in die vergetelheid verdwyn. Dit is dikwels mense van wie 'n mens eintlik niks weet nie, maar wat tog deur hulle teenwoordigheid op die bladsye van die Bybel soms vir ons iets belangriks leer.
 
Ons kry hier vir Paulus en Barnabas op die eerste sendingreis. Die Heilige Gees het hulle uitgestuur na verskeie lande en plekke. Een van die eerste plekke waar hulle aangedoen het, is die eiland Ciprus waar hulle in die stad Salamis die woord van God in die sinagoges verkondig het. Vandaar het hulle die hele eiland deurkruis totdat hulle uiteindelik in die stad Pafos aangekom het.
 
In Pafos ontmoet hulle twee persone, die prokonsul Sergius Paulus en die Joodse towenaar Barjesus of te wel Elimas. Dit is baie interessant dat hierdie twee uiteenlopende persone blykbaar bevriend was. Sergius was in omtrent 47 n.C. prokonsul of goewerneur van Ciprus. Die bietjie wat van hom bekend is, is dat hy waarskynlik uit 'n gesiene Romeinse familie gekom het. Die Bybel noem hom 'n verstandige man. Van Barjesus weet ons net wat hier staan. Dit wil al voorkom asof beide Sergius en Barjesus iewers al iets van Jesus moes gehoor het, want waarom anders sou Sergius vir Paulus en Barnabas laat roep het omdat hy graag die woord van God wou hoor as hy niks van Hom geweet het nie? Barjesus wou op sy beurt voorkom dat Sergius die boodskap hoor omdat hy bang was dat laasgenoemde in Jesus sou begin glo.
 
Twee mense waarvan ons min weet, maar van wie ons baie kan leer. Sergius die Romein wat sekerlik maar min van die God van die Jode en Jesus geweet het, maar tog nie heeltemal niks nie. Wat hy geweet het, het hom gretig gemaak om meer te hoor. Barjesus, het as Jood sekerlik baie van God geweet, maar hy het afsydig gestaan. Die resultaat is dat Barjesus deur “die hand van die Here” (Handelinge 13:11) getref is en vir 'n tyd lank blind was, terwyl ons lees dat die prokonsul: “…verstom oor die leer van die Here, gelowig geword” het. (Handelinge 13:12)
 
Gebed: Ons gebed is vandag dat U mense regoor die wêreld gretig sal maak om u woord te hoor. Gebruik ons ook Here om daar waar mense gretig wag op God se boodskap betrokke te raak met die verkondiging en ook die verspreiding van u Woord. Amen