Ben Fourie
 
“En julle het sy woord nie blywend in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle dink dat die ewige lewe daarin te vinde is. En dit is juis hulle wat oor My getuig. Maar julle wil nie na My kom, sodat julle die lewe kan hê nie.”  Johannes 5:38-40, 2020-vertaling
 
Hierdie woorde van Jesus val vreemd op 'n mens sê oor. Dit klink so asof hy die ondersoek van die Skrif nie te hoog aanslaan nie, maar dit is natuurlik nie wat Hy in hierdie verse bedoel nie. Die Skrifte waarvan Hy hier praat is slegs die Ou Testament omdat die Nuwe Testament nog nie bestaan het nie.
Die aanleiding tot hierdie gesprek was Jesus se genesing van 'n verlamde man by die bad van Betsata op 'n Sabbatdag. Die meeste Jode in die tyd van Jesus het die Ou Testamentiese wette op ‘n baie enge manier verstaan en ook baie streng toegepas. Om jou slaapmat of beddegoed op 'n Sabbat te dra, was 'n erge oortreding van die vierde gebod wat sê dat jy op die Sabbatdag geen werk mag doen nie. Ook die wonderwerk van die man se genesing is as werk beskou. Hulle sou liewer sien dat die man wat al 38 jaar siek was maar siek bly, as dat dit wat hulle as die wet beskou het, oortree word. Hieroor wil hulle dan vir Jesus vervolg.
 
Nog erger vir die Jode was dat Jesus in sy verdediging teenoor hulle verklaar het dat sy Vader in die hemel is. Hy het dus nie net die Sabbatdag ontheilig nie maar ook vir God sy Vader genoem. Die saak was nou so erg dat ons lees die Jode wou hom hieroor doodmaak.
 
Dit is dan dat Jesus hulle beskuldig dat hulle die Skrifte ondersoek, maar nie werklik verstaan wat hulle lees nie. As hulle werklik verstaan het, sou hulle gevind het die Skrifte juis van die koms van die Messias getuig, dat Jesus juis die vervulling van die Skrifte is. Maar die Joodse geleerdes wil dit verstaan volgens hulle menslike insigte. Jesus stel dit as volg in ons teksvers: “Maar julle wil nie na my toe kom sodat julle die lewe kan hê nie.”
 
Om die Bybel deeglik te bestudeer is vandag nog baie belangrik, maar 'n mens kan die Bybel van hoek tot kant ken en tog op die ou end nooit by Jesus uitkom nie.
 
Gebed: Onse Vader help my asseblief om u Woord te ondersoek, maar bo alles, help my asseblief om elke dag by Jesus uit te kom. Amen