Ben Fourie 

“Daarop het Jesus vir die twaalf gesê. ‘Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?’ Simon Petrus het Hom geantwoord: ‘Here, na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe.’” Johannes 6:67-68, 2020-vertaling
 
Bogenoemde woorde staan aan die einde van een van die langste hoofstukke in die hele Bybel. In die eerste deel van hierdie hoofstuk lees ons van die vermeerdering van die brood en van Jesus wat op die water loop. Die skare wat by was met die vermeerdering van die brood het hom bly volg. Toe hulle agterkom dat hy nie meer by hulle is nie, het hulle bote wat van Tiberias af gekom het gebruik om na die oorkant van die see te vaar op soek na hom.
 
Nadat hulle Hom opgespoor het, het hulle begin vrae vra, byvoorbeeld oor wat hulle moes doen om God reg te dien en ook oor die manna wat God uit die hemel gestuur het sodat die Israeliete in die woestyn daarvan kon eet. Hierdie mense was duidelik baie gretig om te hoor wat hy alles te sê het, maar toe hy hulle vrae begin beantwoord, was hulle nie baie tevrede met die antwoorde nie. In die sinagoge in Kapernaum verduidelik hy dan vir hulle dat hy die “brood van die lewe” is. Met ’n sinspeling op die manna waaroor hulle gepraat het, sê hy dat hyself die ware brood uit die hemel is. Dit het die Jode wat daar saamgetrek was erg ontstel. Niemand kon tog aanspraak maak dat hy uit die hemel gestuur is nie.
 
Jesus se verdere verduideliking het hulle des te meer ontstel en selfs van sy eie volgelinge het dit eens te erg gevind. Baie van hulle het dan ook van hom af weggedraai. Wanneer Jesus dit bemerk, vra hy vir sy binnekring of hulle dalk ook beplan om hom te verlaat. Dan doen Petrus die pragtige belydenis soos in ons teksvers saamgevat. Inderdaad. By wie anders is die ware redding te kry. Daar is baie mense wat deesdae glo dat daar baie paaie is wat na God toe lei en elkeen van ons maar ons eie pad moet vind en ons eie heil moet uitwerk. Ons weet saam met Petrus dat dit nie so is nie. Net Jesus het die “woorde van die ewige lewe.”
 
Gebed: Ons dank U Here Jesus dat U die ware brood van die lewe is. Voed my asseblief ook elke dag met hierdie brood. Amen