Ben Fourie 

“Op 'n dag, toe Jesus langs die Meer van Gennesaret staan en die skare Hom verdring om die woord van God te hoor, sien Hy twee bote langs die meer lê.” Lukas 5:1-2a, 2020-vertaling
 
Jesus het reeds 'n deel van sy bediening agter die rug gehad toe die toneel wat in ons teksvers genoem word, afgespeel het. Nadat Johannes Hom in die Jordaan gedoop het, het hy na die woestyn gegaan waar hy versoek is. Van daar het hy na Galilea gegaan waar ons lees dat Hy die mense in die sinagoges geleer het. Die mense het later in die hele streek oor Hom gepraat.
 
Van hier af reis Hy verder na sy grootword dorp Nasaret, waar Hy ook op die Sabbatdag in die sinagoge uit die boek Jesaja gelees het en aan die teenwoordiges uitgelê het dat Jesaja se profesieë op Hom van toepassing is. Die aanwesiges was so ontsteld dat hulle hom uit die dorp weggejaag het en selfs probeer het om Hom van 'n krans af te gooi. Hy is verder na Kapernaum waar Hy 'n besetene genees het. Daar maak Hy Simon se skoonma asook 'n klomp ander mense gesond en dryf nog bose geeste uit.
 
Berigte oor Hom is oral in die streek versprei en die mense van Kapernaum wou nie hê dat Hy weer daar weggaan nie. Jesus het egter 'n stil plek opgesoek, maar so gretig was die mense om na sy boodskap te luister dat hulle Hom bly soek het totdat hulle Hom gekry en gevra het om by hulle te bly. Hy wou egter ook na ander dorpe gaan om daar in die sinagoges te preek.
 
Hierdie boodskappe van Hom het die mense so beïndruk dat hulle letterlik agter Hom aangeloop het. Toe Hy weer op 'n dag by die meer van Gennesaret staan, het die skare Hom letterlik verdring om God se woord te hoor. Die 1983-vertaling stel dit mooi wanneer ons lees dat die skare vorentoe gebeur het om die woord van God te hoor.
 
Nou kom die vraag by my op. Hoe gretig is mense, ons inkluis, nog om die woord van God te hoor? Beur ons nog elke dag vorentoe om te hoor wat God deur sy Gees aan ons wil sê?
 
Gebed: Dit is vir ons 'n vreugde om na u woord te luister, o Here, maar ons bely dat ons soms lui raak. Maak ons asseblief gretig om dit elke dag te hoor. Amen