Ben Fourie 

“Dawid sê toe vir Saul: ‘Waarom luister u na die woorde van mense wanneer hulle sê, “Kyk Dawid is daarop uit om u kwaad aan te doen?’” 1 Samuel 24:10, 2020-vertaling
 
In die Bybel word daar nie net oor God se woorde gepraat nie, ons kry ook baie teksverse wat oor die woorde van mense gaan. In die Psalms, Spreuke, Prediker, die Evangelies en haas in elke ander Bybelboek word oor die woorde van mense gepraat. Ek dink byvoorbeeld aan Spreuke 16:24: “Vriendelike woorde is 'n heuningkoek wat oorloop” en Spreuke 15:1: “'n Sagte antwoord keer woede weg, maar 'n krenkende woord laat toorn opvlam.” Alle woorde wat ons uitspreek het 'n invloed op ander mense, soms positief en ongelukkig baie dikwels ook negatief.
 
In hierdie hoofstuk uit Samuel lees ons die bekende deel waar Saul in die grot gelê en slaap het en Dawid stilletjies nader gesluip het en 'n stukkie van Saul se bokleed afgesny het sonder om hom fisies leed aan te doen. Toe Saul later uit die grot gaan, het Dawid hom op 'n afstand gevolg en die woorde van ons teksvers aan hom gesê. Die 1983-vertaling gebruik die woord “praatjies” in plaas van woorde en dit is presies wat Dawid onder Saul se aandag wil bring. Die onwaar woorde van kwaadstokers waarna Saul geluister het, het die verhouding tussen hom en Dawid so vertroebel dat Saul selfs vir Dawid wou doodmaak. Daar is min dinge wat soveel skade doen as skindertaal. Jan Lion-Cachet skryf in sy boek oor die sewe doodsondes in een hoofstuk oor die “praatduiwel” wat op die ou end indirek 'n jong man se dood veroorsaak het.
 
Daar is 'n verhaal van 'n man wat vir sy rabbi vertel het dat sy praatjies groot skade aan 'n ander persoon gedoen het en hy wou raad hê oor hoe hy dit kon regstel. Die rabbi het gesê dat hy 'n verekussing moes bring. Die kussing is oopgesny en die wind het die vere oor die hele dorp gewaai. Die rabbi se opdrag was dat hy die vere weer moes gaan bymekaarmaak. Hierop die man geantwoord dat dit tog onmoontlik was. Net so onmoontlik, het die rabbi gesê, is dit om woorde wat jy oor 'n ander uitgespreek het weer terug te haal. Laat ons maar baie versigtig wees oor wat ons van 'n ander sê, dit mag onherstelbare skade doen, nie net aan hom of haar nie, maar ook aan ons eie siel.
 
Gebed: Ons wil vandag by U pleit om ons te bewaar van woorde wat vir 'n ander aanstoot kan gee en groot skade kan aanrig. Amen