Ben Fourie 

“Van die farao se amptenare wat ontsag gehad het vir die woord van die HERE, het hulle slawe en vee haastig na veiligheid gebring. Maar dié wat nie die woord van die HERE ter harte geneem het nie, het hulle slawe en vee in die veld agtergelaat.”  Eksodus 9:20-21, 2020-vertaling
 
As 'n mens ‘n maand of wat gelede in sekere dele van ons land rondgery het en in een van die groot sprinkaanswerms beland het, kon jy dalk so 'n iets ervaar het van die groot plae wat Egipte getref het. Ek en my vrou het in die Noordwes-Kaap getoer, maar was gelukkig om niks meer skade te ly as 'n voertuig wat erg besmeer is nie, maar talle boere het groot skade gely sonder dat hulle daar skuld aan gehad het.
 
In ons teksvers vir die dag lees ons van boere in Egipte wat ook groot skade gely het toe die geweldige haelstorm wat God as sewende plaag gestuur het, hulle getref het, maar die skade was hulle eie skuld. Hulle het immers al deurgeloop onder paddas, muggies, steekvlieë, pes onder die vee, bose sere op mens en dier. Tog het 'n groot gros van hulle nie aandag gegee aan God se woorde toe Hy gewaarsku het dat alle diere en mense wat buitekant in die veld gelaat word, deur die hael doodgeslaan sou word nie. Dit is interessant dat daar wel van farao se amptenare was wat na al die vorige plae ontsag vir God se woord gehad het en hulle vee en slawe haastig na veiligheid gebring het.
 
'n Mens sukkel om te verstaan dat daar nog steeds diegene was wat hulle vee en slawe in die veld gelos het. Die gevolge van hierdie houding was katastrofies. Alle mense en diere wat in die veld was, is deur die hael getref en het gesterf. So geweldig was die storm dat selfs die plante en bome platgeslaan en gebreek is.
 
Dit is inderdaad gevaarlik om jou nie aan God se woorde te steur nie. Die gevolge kan vandag ook nog katastrofies wees. Die groot troos is egter dat vir elkeen van ons wat wel leef volgens sy Woord, daar geen gevaar en geen straf is nie.
 
Gebed: Ons sê baie dankie dat U dwarsdeur u woord vir ons riglyne gee hoe om te lewe. Help ons dat ons nie ons eie kop sal volg en u riglyne verontagsaam nie. Amen