Ben Fourie 

“Toe lig Safan, die sekretaris, die koning in: ‘Hier is 'n boekrol wat Gilkija, die priester, vir my gegee het’. Safan lees dit toe vir die koning. Toe die koning die woorde van die boekrol met die wet hoor, het hy sy klere geskeur.” 2 Konings 22:10-11, 2020-vertaling
 
Koning Josia, die hervormer. Op agtjarige ouderdom word hy koning oor Juda en regeer vir 31 jaar lank. Van sy pa, Amon, lees ons dat hy soos sy voorgangers afgode gedien het en die pad van die Here verlaat het. Van Josia lees ons dat hy gedoen het wat reg was in die oë van die Here. Vroeg reeds het hy begin om die tempel wat Salomo laat bou het te restoureer, want tydens die regering van sy voorgangers is die tempel erg verwaarloos en het bouvallig geword.
 
Ten spyte van sy ywer vir die huis van die Here was dinge in Juda nie soos wat dit moes wees nie. Oral in die land was nog altare vir afgode en selfs in die tempel van God is afgode gedien en was daar tempelprostitute. Die voorskrifte van die verbond is nêrens gehandhaaf nie. Die jong Josia het sy bes gedoen om dinge te verander, maar omdat hy nie grootgeword het met die regte manier om God te aanbid nie, was daar talle gebreke.
 
Toe word daar 'n groot ontdekking deur die hoëpriester Gilkija gedoen. Iewers, waarskynlik in 'n stowwerige stoorkamer, ontdek hy 'n boekrol met die wet van die Here. Vir baie jare was God se woord skoonveld. Niemand het blykbaar eers meer geweet dat dit bestaan nie. Eers toe Safan die boekrol vir Josia voorlees, het die koning besef wat werklik God se wil vir die volk is. As teken van droefheid daaroor skeur hy sy klere en daarna kom die groot hervormings. Oral in die land word elke enkele afgodaltaar afgebreek, die offer van kinders aan afgode word verbied, die dodebesweerders en waarsêers word uitgeroei en huisgode verbrand. Saam met die hele volk en die priesters en profete word die verbond met God hernu en die Pasga weer ingestel.
 
Josia wou van jongs af dinge verbeter, maar dit het die herontdekking van God se woord gevra om hom te laat besef wat alles nodig is om God reg te dien. Dit is nog vandag net dieselfde. Sonder God se Woord het ons geen riglyn van hoe Hy wil hê ons Hom moet aanbid nie.
 
Gebed: Liewe Vader ons dank U dat daar in ons land baie Bybels beskikbaar is, maar bid dat U sal voorsien daar waar baie mense nog nie 'n Bybel besit nie. Amen