Ben Fourie 

“In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef, en God het gesê: ‘Laat daar lig wees!’. En daar was lig.” Genesis 1:1-3, 2020-vertaling
 
In die heel eerste paar verse van die Bybel bring God die skepping tot stand deur blote woorde. Die Psalmdigter verwoord dit in Psalm 33:6,9: “Deur die woord van die Here is die hemele gemaak en deur die asem van sy mond die hemel se hele leër. … want Hy het gepraat, en dit was daar, Hy het beveel, en toe staan dit daar.”
 
Ons kan nie met ons menslike verstand werklik begryp hoe oneindig groot ons God is nie. Die mense in die tyd toe Genesis geskryf is, het nog in 'n heelal geglo waar die aarde die middelpunt was en daarom kry die skepping van die aarde voorrang. Maar ons weet dit gaan om veel meer as net die aarde, dit gaan oor die skepping van die heelal. Eers was daar niks, toe praat God en toe skielik “staan dit daar”. Hemel en aarde, sterre en sterrestelsels, newelwolke, pulsars, planete, noem maar op; God praat en dit is oombliklik daar. Hy sê “Laat daar lig wees” en daar is onmiddellik lig.
 
Die wetenskaplikes en sterrekundiges sê dat alles wat vandag in ons heelal bestaan biljoene jare gelede saamgetrek was in een oneindige klein punt, ook genoem 'n enkelheid. Op 'n gegewe tyd het die oerknal plaasgevind en uit hierdie enkelheid het die onbegryplike energie begin straal waaruit ons heelal ontstaan het. Ek kan na baie leeswerk oor die onderwerp sê dat ek nogal in die teorie glo, maar waar baie wetenskaplikes glo dat hierdie oerknal vanself plaasgevind het, glo ek dit het gebeur dat God gepraat het en toe was alles daar.
 
In sy besonderse boek: “Die Groot Gedagte” haal Gideon Joubert die Britse sterrekundige sir Bernard Lovell aan: “Hier val ons in ons eie denke vas. Ons worstel met begrippe van tyd en ruimte voordat dit … bestaan het. Ek voel of ek skielik in 'n digte misbank beland het waarin die bekende wêreld verdwyn.” Ek kan my met sir Bernard vereenselwig. My verstand is ook hopeloos te klein om dit alles te verstaan, maar gelukkig is my geloof in God groot genoeg om die misbank te laat verdwyn. In Johannes 1:3 word alles glashelder wanneer hy van die vleesgeworde Woord sê: “Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.”
 
Gebed: Ons dank U dat U so almagtig is dat U net gepraat het en alles het ontstaan. Maak my elke dag weer bewus van u grootheid. Amen