Carina Francke 

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.” Psalm 103:1
 
Woorde kom kort wanneer ek,
onvolmaakte menseskepsel
lof aan U, o Heer, wil bring
my tong haak vas
en dit wat ek wil sê
loop soek ver paaie om reg te praat
tog bly my woorde stotterend, 'n wanklank,
my effentjies menswees worstel om te sê
ek het U lief o Heer; ek aanbid U Heer.
 
En dan onthou ek: God het sy liefde in my hart uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan my gegee het (Romeine 5:5). Ek kan en mag met die Here praat; ek mag die Here maar uitbundig loof, al is dit soms net stotterende, wanklinkende sinne. Hy hoor dit reg en gee nooit 'n effentjiese antwoord nie! Daarom is lof aan God en lof aan die Seun uiters gepas! Veral vanaf my!
 
In die woorde van Kolossense 1:15-20 loof ons die Seun! "Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, Sodat Hy die eerste plek in die heelal kan inneem. God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon En om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis, het Hy die vrede herstel, Deur Hom het Hy alles op aarde en in die hemel met homself versoen."
 
In Romeine 11:33-36 loof Paulus God! "O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom 'n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen? Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen"
 
"Paulus sing hierdie loflied omdat Hy vasgryp aan die Godheid van God. Sy onbeantwoorde vrae in die lied, verklap dat hy nie alles oor en van God verstaan nie. Nogtans verhinder dit hom nie om geloof in God te hê nie. Sy geloof is geanker in die wete dat God getrou is en dat Hý alles verstaan. Daarom kan hy, wat Paulus is, luidkeels God se ondeurgrondelike rykdom, wysheid en kennis besing. (Van Rensburg FJ & Nel, M: Bybellenium p1764)
 
Gebed: Here, saam met die psalmdigter wil ek U loof, met alles wat in my is, wil ek [u] heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk. (Psalm 103:1-5) Amen