Carina Francke 

"So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word, totdat die Here laat reën het op die land.”  1 Konings 17:14, 1983-vertaling
 
Op gesag van die God van Israel in wie se diens die profeet Elia staan, kondig hy 'n ernstige droogte in die land aan. Geen reën of dou sal val nie, behalwe as hy die woord spreek. Intussen moes hy gaan wegkruip by Kritspruit waaruit hy water kon drink. Kraaie sou soggens en saans vir hom brood en vleis bring. Toe die spruit uiteindelik opdroog, stuur God hom na 'n weduwee in Sarfat om daar te bly. God het haar reeds opdrag gegee om vir hom te sorg.
 
Alles verloop egter nie altyd volgens ons menslike verwagting nie. Die meel en olie wat sy nog oor het, is net genoeg om vir haar en haar seun 'n laaste maaltyd voor te berei. Om dan daarna te gaan sit en wag vir die dood. En nou vra hierdie man dat sy eers vir hom bietjie water bring en daarna 'n roosterkoek voorberei! Sy hoor hom sê: “So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word, totdat die Here laat reën het op die land.” (1 Konings 17:14) Sy moet nou 'n sprong in geloof waag. God het haar immers reeds opdrag gegee om vir hom te sorg. (1 Konings 17:9) Sy doen soos Elia gevra het. En ja, sowaar, bo alle twyfel het die olie en meel nie minder geword nie – net soos die Here deur Elia beloof het. Sy het Elia geglo en God vertrou. Liewe gelowige, leer hieruit: Geloof is die treëtjie tussen belofte en sekerheid.
 
Maar toe word haar seun siek. Die siekte het vererger en die seun het ophou asemhaal. En byna onmiddellik soek sy en Elia redes. Sy wonder: het Elia God se oordeel in haar huis gebring? Hy aan die ander kant bid half verwytend tot God: Het U hierdie ramp gebring? Tog so jammer dat ons beeld van God dikwels van só 'n aard is dat ons teëspoed aan Hom toeskryf, maar die seëninge aanvaar ons as vanselfsprekend. 'n Moet. 'n Gegewe. (Bybellenium p465)
 
Elia het die seun na die bo-kamer van die huis geneem en God bevraagteken oor die seun se toestand. Daarna het hy drie maal bo-oor die seun gaan lê en God gesmeek dat die lewe terugkom in hom: “Here my God laat die lewe tog terugkom in die kind!” (1 Konings 17:21) Die Here het sy gebed verhoor! Eers daarna kon die vrou verklaar dat Elia 'n man van God is, en dat wat die Here deur hom sê, die waarheid is. Wat 'n onverbloemde geloofsbelydenis!
 
Liewe Leser, wanneer God 'n wonderwerk in jou lewe gedoen het, is jou probleme nie noodwendig verby nie. Sy voorsiening word nie gegee sodat jy daarop gaan sit en rus nie. Ons moet van Hom afhanklik bly tydens elke nuwe beproewing wat ons pad langs kom.
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat u teenwoordigheid soos olie in ons lewens is. Dankie vir mense op ons lewenspad wat 'n hand van vriendskap na ons toe uitsteek en na wie ons toe ook kan uitreik. Mag die olie van u liefde in ons lewens, afsmeer aan ander. Amen