Carina Francke 

“Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan. Dan sal die hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.” 1 Samuel 17:46b-47, 1983-vertaling
 
Die storie van die jong skaapwagter Dawid, wat die reus Goliat met een klippie, op sy neus laat kyk het, is seker een van die bekendste Bybelwaarhede van Goddelike dapperheid. Sonder om te kras te oordeel, dit sit nie in enige mens se skoene om 'n baasvegter, en boonop 'n reus, mens-alleen aan te vat nie. En dan is daar nog die kwessie van die verlammende vrees wat hierdie Filistyn by Dawid se mede-Israeliete inboesem. Wat maak Dawid so seker dat Goliat verslaan kan word? En dat hý in staat is om dit te kan doen?
 
Eerstens weet Dawid dat God kennis neem van die minagtende uittarting deur Goliat, daarom sal Hy self tot sy volk se redding kom! Tweedens kies Dawid om deur God se oë na hierdie bedreigende situasie te kyk. Sy perspektief is immers sonder menslike opinies en afleidings! Hy kyk nie na die uiterlike soos die mens nie, maar wel na die binnekant, die mens se innerlike. Derdens gee Dawid erkenning aan God wat hom letterlik “uit die kloue van die leeu en die beer gered het.” Waarom sou God hom dan nie red uit die mag van hierdie Filistyn nie? (1 Samuel 17:37)
 
En veral weet hy dat God die mens se hart ken – ook die wegsteekdinge. (1 Samuel 16:7) Hoe dan anders? God is en bly die enige groot EK IS.
 
'n Vraag aan jou: Hoe dikwels herinner jy jouself aan die wonderlike en goeie dinge wat God tot nou toe in jou lewe gedoen het? Kyk jy deur sy oë om perspektief te kry? En wanneer jy dit doen, bind jy ook jou (soms krimpende) geloof, stywer aan God se vermoë vas? Sien jy kans om jou leeu, beer of dalk net 'n klein Goliat, met geloof die geveg aan te sê?
 
Dawid betree nie hierdie gevegsterrein in eie krag en vermoë nie. Hy beroep hom op die hoogste Naam van gesag. Hy skaar hom dus by “die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel.” (1 Samuel 17:45b)
 
En dan voeg Dawid so terloops by: “Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan …” (1 Samuel17:46a) "… sodat die wêreld sal besef dat Israel 'n God het. (1 Samuel 17:46b) En toe vryf hy sommer nog sout in Goliat se wonde as hy verklaar dat die Here nie verlos deur swaard of spies nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort. En dit is Hy wat die Filistyne aan die mag van die Israeliete oorgee. (1Samuel17:47)
 
Vir Dawid het die oorwinning nie gegaan oor roem vir homself nie, maar oor die eer en heerlikheid van God, die Here die Almagtige! Vir hom was dit nie die uiterlike wapens wat die oorlog wen nie, maar die geloof in God wat van binne kom. (CR Swindol: Memorable Scenes p51) Liewe Vriend, het jy jouself al afgevra wat jou motivering is om altyd oorwinnend en suksesvol uit 'n uitdagende of beproewende situasie te moet kom? Gaan dit oor jouself, of om God se eer te besing?
 
Gebed: Almagtige Vader, mag my lewe een van geloof in u outoriteit wees. Laat my geloof ingeweef wees in u almag en my gesindheid deurweek van u liefde en omgee. Maak my getrou en dapper om altyd twee voete in U, vasgegroei te leef. Amen