Carina Francke 

“Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het.  Jesaja 53:3, 1983-vertaling
 
“Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie.” Jesaja 53:7, 1983-vertaling
 
Word rustig en skep ‘n prentjie in jou verbeelding (of op papier) met hierdie woorde as legkaartstukkies: verraad, vals aanklagte en getuienis, boeie, soldate, verloën deur ‘n vertroueling, géseling, ‘n doringkroon, vernedering, gespot, halfnaak. ’n Oopgekloofde, bloedbevlekte liggaam – vasgespyker aan ‘n kruis van hout. Skryf nou bo-oor jou prentjie: Dit is liefde – Jesus se offerliefde.
 
Jou prentjie behoort ‘n redelike verstaan van die kruisgebeure weer te gee, maar net vir ingeval: die Jode se klagstaat teen Jesus – Hy het Homself die Seun van God gemaak. (Johannes 19:7, 1933/1953-vertaling) Die verhooruitspraak deur goewerneur Pontius Pilatus: “Onskuldig! Ek vind geen skuld in hom nie!” En dan later, die ommekeer. Op aandrang van die priesterhoofde lewer hy Jesus uit om gekruisig te word. Jesus Christus, die Koning van die Jode, die Mens, ons Messias word “soos ‘n lam na die slagplek gelei en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word.” (Jesaja 53:7)
 
In geen stadium het Hy gerebelleer of homself teëgesit nie, selfs nie gekla nie. Hy het die naam, “Lam van God” met goddelike krag en koninklike grasie gedra. Sy lyding en uiteindelike dood aan die kruis ter wille van jou, my en elke mens wat ooit gebore is en nog gebore sal word, was ‘n oorwinning behaal deur die gesag van die Leeu. Die Leeu uit Judastam! Sodat jy, ek en alle mense bevry kan word van sonde en geregverdig voor God kan staan.
 
Terug na jou prentjie se opskrif. Jesus se liefde is uniek, dit is anders. Dit stel nie eise nie, vra nie gunste en gawes nie, reken die kwaad nie toe nie. Sy liefde is ‘n gee en offerliefde: “Oor óns oortredings is hy deurboor; oor óns sondes is hy verbrysel, die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jesaja 53:5) Ja, hy het sy lewe as skuldoffer gegee. (Jesaja 53:10)
 
Sy belofte van liefde vir ons staan steeds vas: “Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet.” (Jesaja 54:10)
 
En ons reaksie hierop: Ek glo Christus! Ek glo in die reinigende, herskeppende krag van u lewensbloed wat my vrygekoop het van elke sonde en alle oortredinge. Ek glo dat U my Verlosser, my Messias is!
 
Gebed: My hemelse Vader, die besef van u onbeskryflike liefde en genade vir feilbare mense laat my stom en oopmond verbaas. Dankie vir u liefde waaraan daar geen einde is nie, maar veral ook vir die ewige anker van lewe in die Messias, Jesus Christus wat my en elke mens se redding moontlik gemaak het. Amen