Carina Francke 

“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” Matteus 5:8, 1983-vertaling
 
Van al die sketse, prentjies en inkleurprente oor Bybelkarakters, het die een van 'n baie klein en jong Samuel my oog gevang. Hy was die antwoord op sy kinderlose ma se smeekgebed om 'n seun te mag hê. Sy maak 'n gelofte aan God, dat sodra hy gespeen is, sy hom na die tempel sal bring om daar te bly en diens te doen. Eli, die priester sou toesig oor hom hou. Ek onthou ook dat daar oor hom geskryf staan dat hy as jong seun reeds die Here gedien het. Hy het “voor die Here grootgeword en mettertyd toegeneem in grootte en guns by die mense en by die Here.” (1 Samuel 2:11,18,26, 1933/1953-vertaling)
 
Die woord van die Here was min gehoor in daardie dae en daar was nie dikwels openba-rings van God nie. (1 Samuel 3:1, 1983-vertaling) Hy het gewag vir 'n geskikte persoon om as instrument te gebruik. En toe, vir die eerste keer, roep die Here in die nag na Samuel. Driekeer meld hy by Eli aan en driekeer verseker Eli hom dit is nie hy wat hom roep nie. Maar hierdie keer besef Eli dat die Here met die seun wil praat.
 
Terug in sy slaapplek, op advies van Eli, antwoord Samuel toe God vir die vierde keer roep: “Praat, Here, u dienaar luister!” (1 Samuel 3:10) Kan jy jou indink in die oorweldigende belewenis van hierdie geringe seun toe God werklik direk met hom praat? Net maar 'n seun en bo menslike verstaan, kies God hom om kennis te dra van sy toekomstige ore-tuit optrede oor die huis van Eli en die volk Israel.
 
Besef jy wat hier gebeur het? 'n Jong onskuldige, opregte seun is God se gekose instrument om in die toekoms as getroue en betroubare priester te doen en sê wat God verlang. Hy moet leiding aan die volk gee en hulle op so 'n wyse dien, dat hulle weer hul harte en gesigte na God sal draai. Die Here moet as die enige God erken, gedien en aanbid word.
 
1 Samuel 3:20 gee 'n getuigskrif van Samuel. “Die Here was by hom; Hy het nie een van sy woorde onvervul gelaat nie; die hele Israel het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here.” Hoor jy wat is God se voorkeur? Hy verkies 'n geestelike leier met 'n rein en opregte hart. 'n Geseënde! Dit is tog wat Matteus 5:8 bevestig: “Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
 
Ek en jy worstel self ook dikwels om te hoor as die Here na ons roep. Ons besige leefstyl, bekommernisse, gebrekkige stiltetyd, ons gesindheid teenoor mense en ... en ... en, laat maar min ruimte om die Here se stem te leer ken. Moet egter nie mislei word nie, Hy roep en praat daagliks met ons. Weliswaar nie in 'n hoorbare stem nie, maar veral deur sy Woord en die Heilige Gees in ons harte. En dit vra 'n persoonlike verhouding met Hom, die raaklees van die Woord oor die hóé, asook jou aandagtige luister in stilte, sowel as in die storm.
 
Vir jou wat hier lees: Jy mag dalk nie in die voorhowe van die kerk, tempel of bymekaarkom-plek diens doen nie, maar God ken jou naam. Dieselfde God wat met klein kindertjies en belangrike manne gepraat het, sal en wil ook met jou praat. Hy ken jou naam en sal jou roep op jou naam. Nie net eenkeer nie, maar totdat jy sy stem herken. Leef jy maar net oop ore gereed om te antwoord: “Praat Here, u kind hoor en luister.” 
 
Gebed: Hemelse Vader, in 'n lewe vol onsekerhede, is ons toewyding dikwels ook onseker. Ek bid dat u Heilige Gees my sal lei om u stem duidelik te onderskei van alle verwarrende stemme om my. En ook dat u Woord my in waarheid sal lei. Sodat ek met entoesiasme en afwagting kan uitroep: “Spreek Here! U dienskneg luister!” Amen