Carina Francke 

Die engel het vir my gesê:” Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is.” Handelinge 27:24, 1983-vertaling
 
Paulus, die fanatiese vervolger van Heilige Gees vervulde gelowiges, kom deur 'n ingrype van God, kragdadig tot inkeer op die Damaskuspad (Handelinge 9:3-5) Sy getuienis oor homself, sê in geen onduidelike taal wie hy is na sy ontmoeting met Christus nie: “…ek wil met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe is vir my Christus, en om te sterwe is vir my wins.” (Filippense 1:20-21) Is dit ook die manifes oor jou lewe?
 
Hierdie geloof in en toegewydheid aan die Here, bring hom in onguns by baie mense. Sy openbare prediking oor Jesus Christus, maak hom 'n vyand van die Jode. Hy verskyn voor die Joodse Raad, word uitgejou, vals beskuldig deur sy eie mense, en word met 'n valkoog dopgehou vir enigiets wat hom skuldig maak aan die oortreding van die Joodse wet. Die skrifgeleerde Fariseërs en Saduseërs, raak selfs handgemeen met mekaar oor Paulus se rotsvaste geloof en Christus oortuiginge. Daardie nag praat God met hom:”Hou moed! Hier in Jerusalem het jy vir my getuig. So moet jy dit in Rome ook nog doen.” (Handelinge 23:11) Met die wete dat die Jode geen getuienis teen hom het nie, weier Paulus om in Jerusalem verhoor te word en hy beroep hom op die keiser. (Handelinge 25:10-12)
 
Hy vertrek saam met soldate, skeepspersoneel en ander gevangenis per skip na Rome. 'n Reis wat gekenmerk was aan God se betrokkenheid by Paulus, en Paulus se besorgdheid oor die wel en weë van almal op die skip. Sterk winde en die knypvingers van die winter, het die vaart bemoeilik en stadiger gemaak. 'n Hewige storm wat vir dae aaneen gewoed het, lei uiteindelik daartoe dat die vrag en die toerusting van die skip oorboord gegooi word. Dit het die manne alle hoop laat vaar om gered te word. (Handelinge 27:20
 
Paulus, as gestuurde medewerker van God, tree egter tussenbeide met die versekering dat nie een van hulle sy lewe sal verloor nie – slegs die skip sal vergaan. (Handelinge 27:22-23) ’n Engel van die God aan wie hy behoort en dien, het immers die vorige nag aan hom verskyn en sy opdrag bevestig:” Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou, spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier op die skip is.” (Handelinge 27:24)
 
Dit het my laat wonder: Hoe gereeld doen ek self-ondersoek om my toegewydheid aan sy Woord te kontroleer? Dien ek Hom vir wat Hy vir my kan doen, of dien ek Hom omdat ek Hom waarlik liefhet? Is my lewe en liefde vir God en mense, van so 'n aard dat Hy in sy goedheid iemand anders se lewe sal spaar ter wille van my?
 
Gebed: Hemelse Vader, help hierdie wankelrige kind van jou om getrou aan U te bly. U weë met u medewerkers is goedheid en guns. U weë met hulle is liefde. U weë is u Goddelike self! En daarvoor sê ek, dankie! Dankie! Dankie!