Carina Francke 

“Hy het toe vir hulle gesê: ’Kom hier! Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak.’ Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.Markus 1:17, 1983-vertaling
 
Toe Jesus te hore kom dat koning Herodus vir Johannes in die tronk opgesluit het, vertrek Hy na Galilea. Die tyd het aangebreek, die volk moet hoor: “Bekeer julle, want die koninkryk van die Here het naby gekom.” (Matteus 4:17) Markus voeg hierby: “Bekeer julle en glo die evangelie.” (Markus 1:15)
 
Dit is hier, in Galilea dat Jesus sy eerste dissipels roep. Vier manne, vissers van beroep, was besig was om vis te vang, toe Jesus hulle uitnooi: “Kom hier! Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak.” (Matt. 4:19) Omstanders se wenkbroue het sekerlik gelig. Dit is immers ongehoord dat 'n leermeester in die korrekte uitleg van die Joodse wet, 'n voornemende dissipel (volgeling) persoonlik uitnooi om by hom onderrig te word en hom na te volg. Die dissipel moes self kies wie hy wil vra om hom te onderrig. En nou is hier 'n Leermeester wat persoonlik volgelinge (dissipels) nader en uitnooi om Hom te volg en onderrig te word in hoe om vissers van mense te word! 'n Leerproses wat op die oog af niks te doen het met wetuitleg nie, maar met verlore mense wat uit die stormwater van die lewe gevis moet word!
 
Hierdie nuwe koersvooruitsig het tot gevolg dat Simon (ook genoem Petrus) en sy broer Andreas hul pa verlaat, hulle werpnette en skuit net daar los waar hulle besig was om vis te vang om Jesus te volg. Hulle het iets groot gesien – 'n lig wat opgegaan het. ’n Lig wat duisternis en skemerte uiteindelik verdryf. Dié lig het uiteindelik gekom! En hulle verstaan nou die metafoor: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” 'n Realiteit wat opgesluit lê in die mens se geloof in Jesus Christus! (Matteus 4:15-19)
 
Hulle verstaan: As vissers van mense, rus die verantwoordelikheid op hulle en elke toekomstige dissipel se skouer, om die Lig van die Lewe, Jesus Christus, in die duisternis te laat skyn en so mense aan wal en na veiligheid te bring.
 
Besef jy dat Jesus ook inisiatief geneem het om my en jou na Hom toe te roep? Sodat ons daagliks in sy teenwoordigheid kan leef en werk. En ook deel kan wees van die visvangspan wat mense na Jesus toe lei deur die boodskap van bekering en geloof in die koninkryk van die Here. Dissipel-wees beteken: “Kyk na Jesus! Luister na Jesus! Leer van Jesus!”, aldus Peter Waldo, die leier van die Waldensians. En dit is presies wat die dissipels gedoen het. Jesus was hulle Mentor en Leermeester. Die vraag is net: Tree jy as geroepene op om ander na Jesus te lei?
 
Gebed: Hemelse Vader baie dankie dat die Goeie Nuus van God in Jesus, 'n werklikheid geword het. En dankie dat U ons bemagtig en in staat stel om dit met ander te deel. Amen