Carina Francke 

“Daarna sê die Here: Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hul lyding ter harte geneem. Daarom het afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk heuning.” Eksodus 3:7-8, 1983-vertaling
 
Sedert die begin van tye, asook regdeur die Ou Testamentiese bedeling, is die Here intiem by sy skepping betrokke. Hierdie Skrifgedeelte spel Israel se lot en lyding baie duidelik uit. Hy beskou dit in so 'n ernstig lig dat Hy “afgekom het” om hulle te bevry. (Eksodus. 3:8) Die enige, alleenwyse God sien en hoor hulle hulpgeroep en gaan tot aksie oor om hulle van die verdrukkers te red en na 'n nuwe land te neem. En sy plan? 'n Mens, die man Moses. 'n Uiters sagmoedige man, meer as enigiemand anders op die aarde (Numeri 12:3). Hy praat egter swaar en het 'n sukkel tong. (Eksodus 4:10) Sy beroep? 'n Herder wat sy skoonpa se kleinvee oppas.(Eksodus 3:1)
 
Nie noodwendig die getuigskrif wat 'n platgeslane, moedelose volk na 'n nuwe, maar vreemde wêreld van melk en heuning kan lei nie! Maar … God roep Moses! En Hy sal Moses help om te praat. (Eksodus 4:10-11) En dit is waaraan Moses se bereidwilligheid geanker is – God wat by hom is en sal wees.
 
God kies om 'n man te gebruik wat mens vir ander mense kan wees. Iemand wat die aard van 'n mens goed ken, maar nogtans gewillig is om aan te meld vir diens. Vir jou wat hier lees, wat voortdurend vashaak op jou onbelangrike self, jou tekortkominge en onvermoë, is Moses se lewe een wat praat oor God se vermoë om swak mense te bemagtig om selfs aan die onmoontlikste dinge, vlerke te gee. Die vereiste? Jou “ja Here! … as U onderneem om elke oomblik voor en langs my koers aan te dui!”
 
Moses het geweet vir wie hy ja sê. Vir die “Ek is wat Ek is.” (Eksodus 3:14) “Die Here, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” (Eksodus 4:15) Dit is die ewige Naam van God en is die Naam waarmee Hy aangeroep moet word van geslag tot geslag.
 
Weet jy dat jy ook na God mag roep? Jou swaarkry gaan nie by Hom verby nie, Hy weet van jou! As jy verwerp voel in tye van lig en vreugde, maar ook in dae van donker en verlorenheid, weet vir seker: jou swaarkry gaan nie by Hom verby nie, Hy weet van jou!
 
Op die dae wat jy vuisvoos geslaan is deur die lewe en sy laste, doen wat Psalm 50:15 sê: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”
 
Maar het jy geweet dat Hy jou ook wil gebruik? Jy is deel van sy plan vir daardie eensame individu wat jou pad soms kruis; vir die gesin wat worstel om sin te maak uit die chaos in hul lewens en om jou eie onsekerhede aan die kapstok te hang en tuis te kom – by sy plan vir jou lewe.
 
Liewe leser, God het nog nooit verander nie. Hy is nog steeds die Een wat intens van mense kennis neem. Hy hoor jou pyn en gesug, ja, hy hoor ook jou noodkrete. Maar, Hy laat dit nie daar nie. Hy gaan oor tot aksie, want jy, mens, is deel van sy plan!
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat die sagste hulpgeroep van u kinders, soos welluidende klanke deur U ontvang word. Maak ons ore oop en ons mensweeswakker om U betrokkenheid in ons lewens nie mis te loop nie. Amen