Carina Francke 

[God het die mens gemaak om as 'n persoon met God as Persoon in 'n verhouding te tree. Daarom het Hy die mens gemaak met 'n eie wil en keuse. Dit is in die wyse waarop mense besluite neem en keuses uitoefen dat die verhouding met God sigbaar word. Dwang ontbloot nie 'n mens se gesindheid nie – net vrye keuse doen dit. Daarom moet die risiko geneem word dat die mens verkeerd kan kies, dat hy sy perke kan oorskry. (Bybellenium FJ van Rensburg en Nel. p16)]
 
“Die mens het met sy vrou Eva gemeenskap gehad, en sy het swanger geword. Sy het vir Kain in die wêreld gebring en uitgeroep: “Ek het 'n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here.” Genesis 4:1, 1983-vertaling
 
Bogenoemde woorde het seker na die geboorte van elk van haar en Adam se eerste drie seuns, uit Eva se mond gekom. God se opdrag “wees vrugbaar, word baie,” (Genesis 1:28) het gerealiseer! Maar kinders trap hul eie spore en maak hul eie keuses op die paaie wat hulle kies. Kain kies verkeerd. Sy kwaad-wees vir sy broer Abel, omdat dié se offer deur God aanvaar is en Kain s’n nie, lei tot moord. 'n Stilbly, wegsteek moord.
 
Totdat God opdaag en sy vraag aan Kain oor waar Abel is, nie beantwoord word nie. God wat alles weet, ontbloot die waarheid – die sonde wat voor Kain se deur lê en wag het, het hom in sy mag gekry. Hy het gefaal om daaroor te heers! (Genesis 4:7)
 
Abel se bloed roep vanaf die aarde na die Here toe. En die Here hoor!
 
Vir Kain, die landbouer, lê 'n lewe voor sonder grond en oeste, sonder God, 'n vlugteling voor mense uit wat hom wil vermoor. 'n Doellose swerwer sy lewe lank. (Genesis 4:1-15)
 
Die Here hoor egter Kain se wanhooproep: “My straf is te swaar om te dra. U verdryf my nou van my grond af, en tot U het ek nie meer toegang nie. Ek sal 'n doellose swerwer op aarde wees, en wie my raakloop, sal my vermoor.” (Genesis 4:13-14) Vanuit sy genade hart, sy tweede kans hart, gee God aan Kain 'n teken, sodat niemand wat hom raakloop, hulle hande aan hom sal slaan om hom dood te maak nie. Kain het uiteindelik gaan woon in Nod (Swerwersland), oos van Eden.
 
Dalk ken jy iemand, of is jy self iemand wat hom in Kain se skoene bevind. Alles is nie verlore nie, daar is hoop – God hoor as die mens na Hom roep! En al is Hy soms lankmoedig, Hy antwoord altyd. Nie op ons tyd of manier nie, maar op 'n Goddelike, unieke wyse.
 
Gebed: Here, dankie dat U die God van tweede en derde kanse is en dat U hoor as hierdie mens ook roep. Vandag lê my verlede, my nou en my toekoms, voor U oop soos 'n boek. Mag ek vra dat U groot genade sal bewys wanneer U daarin lees. Amen