Ewald Schmidt 

“Ten slotte: Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig.”
1 Petrus 3:8, 1983-vertaling
 
Baie van die wêreld se moeilikheid op die oomblik is mensgemaak. Menslike selfsug speel 'n groot rol in die seerkry wat baie mense tans ervaar. Petrus se brief is geskryf aan gelowiges wat tans ly in 'n onregverdige sisteem. In hierdie donker wêreld is ons geroep om ligdraers te wees. Vandag se teks gee ons 'n paar eienskappe van 'n lewe wat 'n positiewe verskil maak.
 
Die probleem met selfsug is dat dit jou dadelik oprig om teenoor die res van die mensdom te staan te kom. Eensgesindheid gebeur wanneer ek deel van iets groter as ek is. Wanneer ek my lewe, my tyd en talente inspan om iets groter as ekself te dien. Vir die Christen is dit die koninkryk van God. Ons is die Liggaam van Christus as medegelowiges. Ons dien mekaar. Eensgesindheid beteken om 'n groter visie as my eie belange te hê, en saam met ander te werk om dit te bereik. Dit beteken glad nie dat ons identies is, en altyd dieselfde dink oor elke saak nie. Maar ons is saam op dieselfde pad, op pad na dieselfde bestemming. Daarom help ons mekaar om daar uit te kom.
 
Medelydend beteken om bereid te wees om saam met ander te ly. Om jouself in ander se skoene in te dink. Om prakties 'n hand uit te reik en te help waar jy kan om iemand anders se lewe beter te maak. Dit vra 'n stuk selfopoffering, in navolging van ons Here Jesus se voorbeeld.
 
Om liefdevol te wees, is selfverduidelikend. God is liefde (1 Johannes 4:17) en ons is na sy beeld gemaak. Jesus het daardie liefde vir ons kom uitleef, en ons geroep om Hom te volg. Sy opdrag was dat ons mekaar sal liefhê, soos Hy ons liefhet.
 
Goedhartig beteken letterlik om 'n goeie hart te hê. Om sout vir die aarde te wees, deur die verderf teë te werk. Om in alles wat ons doen, die goeie te soek en te bevorder. Dit vra 'n positiewe manier van kyk na die lewe, van positief dink, en gewilligheid om daarvoor te werk.
 
Nederigheid gebeur wanneer ons vrede met onsself ervaar. Ons weet dat ons duur gekoop is deur Jesus se kosbare bloed. Niemand is beter, of minder werd as ek nie. Ek is dankbaar vir wie ek is. Daarom kan ek my naaste se belange bevorder, en dien soos Jesus.
 
Gebed: Here Jesus, dankie dat U die beste Rolmodel vir my lewe is. Dankie dat U liefde kom wys het, en die wêreld kom verander het. Help my om soos U my lewe aan liefde te wy. Amen