Ewald Schmidt 

“Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”  1 Petrus 2:11-12, 1983-vertaling
 
Ons elkeen het die behoefte om in te pas, om êrens te behoort. Ek beleef die beeldmateriaal van die oorlog in die Oekraïne baie erg. Dit is verskriklik om te sien hoe mense se lewens uitmekaar gebombardeer is, en hoe miljoene vlugtelinge oor die grense stroom. Hulle is nou vreemdelinge in 'n vreemde land. Dit is nie hulle woonplek nie, dit is nie waar hulle harte is nie, en hulle is net tydelik waar hulle nou is. Hulle hoop is gevestig daarop om terug te keer na hulle woonplek toe.
 
Die gelowiges aan wie Petrus skryf, het soortgelyke emosies beleef, toe hulle deur hul gemeenskappe verwerp is, en later deur die Romeinse Ryk wreed vervolg is. Hulle het nie meer tuis gevoel in die plekke waar hulle grootgeword het nie. Wat gee in sulke deurmekaar tye vir 'n mens hoop? 'n Mens het 'n sterk begrip van jou eie identiteit nodig. Jy het ook die ervaring nodig dat jou lewe steeds sinvol is, en 'n verskil maak.
 
Al voel gelowiges soos vreemdelinge en bywoners, het gister se dagstukkie ons herinner dat ons God se eiendomsvolk is. Hy het ons bymekaar gemaak, Hy het ons 'n nuwe identiteit gegee. Ons is die mense wat nou sy lig in 'n donker wêreld uitstraal. Al voel die wêreld nie meer soos ons veilige woonplek nie, het die Here hier en nou vir ons 'n roeping.
 
Die manier waarop ons lewe in moeilike tye maak saak. Ons het 'n getuienis as kinders van God wat ons uitdra in die manier waarop ons lewe. Daarom is die oproep so dringend om nie maar toe te gee aan al die versoekings van die w֜֜êreld en te leef net soos ons wil nie. Ons is hier as God se verteenwoordigers, sy ambassadeurs. Daarom is ons geroep om anders te wees, om 'n alternatiewe lewenswyse te demonstreer.
 
In alles wat ons sê en doen moet die goedheid van God sigbaar word. Ons lewens word 'n voorbeeld van liefde, lig en hoop. Ons is Geesvervulde mense, en deur die vrug van die Heilige Gees maak ons die wêreld rondom ons 'n beter plek. Dié wat Jesus as Here nog nie ken nie, mag dalk net positief aangeraak word deur ons liefde. Ons is vreemdelinge wat die reguit pad stap, om hoop te bring.
 
Gebed: Here, help my om te onthou dat ek aan U behoort. Help my om moed te hou wanneer die lewe rof raak, en altyd met liefde en entoesiasme die reguit pad te stap tot u eer. Amen.