Ewald Schmidt 

“Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God. Die Skrif sê: “Die mens is soos gras, en al sy prag soos 'n veldblom; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van die Here, dít bly vir ewig.” En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.” 1 Petrus 1:22-25, 1983-vertaling
 
Ons het gister gelees dat ons nuwe mense is, losgekoop deur die kosbare bloed van Jesus. Ons geloof en ons hoop is op God gerig, sê vers 21. In vandag se teksgedeelte sien ons watter groot verskil geloof in ons Here Jesus in ons lewens maak.
 
In vers 24 word Jesaja 40:6 en 8 aangehaal. Die ou mens se lewe is soos dié van gras. Sy lewe kan baie mooi wees, maar verdor en verwelk met die loop van tyd. 'n Mens se bestaan op aarde, gemeet teen die gang van die ewigheid, is maar baie kort en gou verby.
 
Daarteenoor het die evangelie van Jesus 'n nuwe lewe in ons ontsluit. Ons is mense wat met nuwe hoop lewe, 1 Petrus 1:4 het gesê dat die hoop in ons onverganklik, onbesmetlik en onverwelklik is. Dit kan nie opraak nie, nie vuil of lelik word nie, want God hou dit vir ons in bewaring tot Hy ons kom haal. Die oorgang tussen die ou en die nuwe lewe het gebeur toe ons wedergebore is, toe die waarheid ons kom reinig het. Ons het ons Here Jesus as Here van ons lewe leer ken, ons weet dat sy offer aan die kruis in ons plek aanvaar is.
 
Die nuwe lewe wat Jesus vir ons gegee het, bestaan uit nuwe verhoudings. Ons lewe nie meer vir onsself eerste nie. Ons behoort nou aan die Here, en leef vir Hom. Ons reik ook met liefde na ons medemens uit. Hierin lê die uitdaging van die nuwe lewe, dit is wat Jesus bedoel het toe Hy die nuwe lewe as 'n smalle weg beskryf het.
 
As nuwe mense, beelddraers van God, word ons opgeroep om te gaan liefhê. God is liefde, sê 1 Johannes 4:16. Ons taak is om ons naaste te gaan liefhê, soos wat Jesus ons liefhet. (Johannes 13:34 en Johannes 15:12) Dit mag nie net woorde wees nie, dit kom uit 'n nuutgemaakte hart. “Ongeveins” beteken dit is nie net voorgee woorde nie. Dit kom uit die hart uit, “van harte”. En die liefde is met passie, dit is “vurig”. Dadelik weet ons: ons is nog nie daar nie! Dit is moeilik om alle mense so lief te hê. Tog is dit die groeiproses waarmee die Heilige Gees ons help. Liefde is die eerste vrug van die Heilige Gees. Ons groei daarin.
 
Gebed: Here, dankie dat my lewe nie meer soos gras verdor nie, maar dat ek die nuwe, onverwelklike, onverganklike, onbesmette hoop in Jesus kan ervaar. Dankie dat U my 'n nuwe mens gemaak het deur geloof in Jesus. Help my nou deur die Gees om my naaste vurig, en van harte lief te hê soos u Woord my vandag beveel. Amen