Louise Gevers 

“Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades. Openbaring 1:17b-18
 
Op een van die warmste dae van die jaar moes ons 'n energieke Audie by haar huis gaan oppas. Sy was gou moeg van die meer " rustige" aktiwiteite en nadat sy haar sambreel gevind het, wou sy gaan stap. Dit was volgens haar nie te warm nie want haar sambreel kon haar kop teen die son beskerm!
 
Kort voor lank was ons besig om baie entoesiasties die hele buurt te ontdek, totdat sy 'n muur raakgesien het waarteen die lang skaduwee van 'n telefoonpaal soos 'n verwronge voëlverskrikker opgedoem het. Sy het teruggedeins en gesê: "Dit maak my bang!" Omdat ons kon verstaan hoekom sy dit grillerig gevind het, het ons baie moeite gedoen om te verduidelik en vir haar te wys dat die skaduwee haar nie kan seermaak nie. Ons het selfs haar sambreel gebruik om die vorm van die skaduwee te verander.
 
Ons almal raak soms bang en dit is nodig dat ons dit erken vir wat dit is: iets wat sy wortels in die onbekende het en wat aangespreek moet word voordat dit buite proporsie raak – soos die intimiderende, maar kragtelose skaduwee vir 'n weerlose kindjie. Soms gebruik die Vyand 'n werklike bedreiging of een wat ons ons verbeel waar is, om ons aan te val en van ons vrede te beroof. Dit alles terwyl ons kalm op God moet vertrou.
 
In enige situasie moet ons onthou dat God by ons is: ons kan tot Hom bid omdat Hy ons liefhet en aan ons behoeftes sal voldoen. Die woord "bang" kom 234 keer in die 2020-vertaling voor en die frase "moenie bang wees nie" 88 keer. In sommige Engelse Bybelvertalings kom "fear not" 365 keer voor. (https://believersportal.com/list-365-fear-not-bible-verses/) Hierdie woorde word regdeur die Bybel, van Abram in Genesis tot Johannes in Openbaring, gebruik om mense aan te moedig om in elke uitdagende situasie op God te vertrou.
 
Toe Dawid deur sy vyande agtervolg is, skryf hy: Die dag wanneer ek bang is, vertrou ek op U. Op God – ek loof sy woord – op God vertrou ek. Ek sal nie bang wees nie; wat kan vlees en bloed aan my doen?" (Psalm 56:4-5)
 
Toe 'n leër Israel omring, bemoedig Elisa sy bang dienskneg wanneer hy sê: "Moenie bang wees nie, want hulle wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.” Elisa het toe gebid en gesê: “Here, maak tog sy oë oop, dat hy kan sien!” Daarop het die Here die dienaar se oë oopgemaak, en hy sien toe – sowaar, die berg rondom Elisa is vol perde, en strydwaens van vuur!" (2 Konings 6:16-17)
 
In vandag se vers, toe Johannes Jesus in al sy heerlikheid sien en hy "voor sy voete neergeval [het] soos 'n dooie", bemoedig Jesus hom deur te sê: “Hou op om bang te wees". Jesus se woorde plaas vrees in perspektief want dit wys dat daar geen groter krag as Hy is nie. Hy was daar van die begin en sal vir ewig leef. Hy hou "die sleutels van die dood, en van Hades" In Matteus 10:28 sê Jesus aan sy dissipels: "En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan." Maar Hy verseker hulle ook dat "selfs die hare op [hulle] kop is almal getel.  Moet dan nie bang wees nie … " (Matteus 10:30-31a)
 
Jesus is die antwoord op al ons vrese. Wanneer vrees dreig om ons gedagtes te verlam, moet ons Hom in geloof aanroep sodat Hy deur die krag van die Gees en sy Woord aan ons die troos wat ons nodig het, kan gee. Hy is by ons daarom moet ons "al [ons] bekommernis op Hom werp; want Hy gee om vir [ons]. (1 Petrus 5:7)
 

Gebed: Here, dankie dat "in die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite" (1 Johannes 4:18) en "[U] ons tog nie 'n gees van vreesagtigheid gegee [het] nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing." (2 Timoteus 1:7) Amen