Louise Gevers 

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie. Johannes 1:1-5, 2020-vertaling
 
Jesus is in Betlehem, Judea, gebore, in die dae van koning Herodes, en kyk, daar het sterrekenners uit die Ooste in Jerusalem aangekom. Hulle het gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien, en ons het gekom om eer aan Hom te bewys.” Matteus 2:1-2, 2020-vertaling
 
Kersfees is 'n fees soos geen ander nie. Elke jaar sien mense met groot verwagting en vreugde uit na hierdie tyd van blydskap, vrede, welwillendheid en van gee. 'n Tyd om fees te vier en spesiale oomblikke met spesiale mense te deel en die grootste gebeurtenis in die geskiedenis, God se geskenk van sy Seun, te herdenk. Van die vroegste tye het hierdie geleentheid die kalender bepaal en raak dit steeds op verskeie maniere die lewens van beide gelowiges en ongelowiges regoor die wêreld.
 
Pous Paulus VI beskryf Kersfees as die grootste historiese en beslissende ontmoeting tussen God en die mens. Johannes verduidelik die grootsheid en misterie van hierdie geskenk wanneer hy verduidelik wie gebore is: God wat mens geword het deur Jesus, die lewende Woord. Wat 'n wonderlike geskenk, God as mens wat uit die aard van wie Hy is, grootmoedig en tydloos, niemand uitsluit nie.
 
Johannes verkondig dat Jesus was van die begin by God. Deur die Woord het alles ontstaan. Die lewe in die Woord was en is dieselfde lig wat Jesus op aarde in die lewe van die mense laat skyn het, die lig wat "die duisternis nie [kon] uitdoof nie." (Johannes 1:5, 2020-vertling), en wat van die waarheid van die ewige lewe vertel.
 
Dit was die lig van 'n ster wat die reisigers uit die Ooste gelei het na waar die Lig van die lewe in 'n krip in Betlehem lê.
 
Die missie van die wyse manne was 'n interessante een vir hierdie manne wat sterrekenners was. Hulle het egter die reis onderneem in reaksie op 'n buitengewone helder ster in die hemelruim wat vir hulle 'n bewys was van iets van uiterste belang en hulle gelei het na 'n ontmoeting met 'n pasgebore Koning.
 
Die ster het hulle gelei na waar "die Woord mens geword en onder ons kom woon [het]." (Johannes 1:14a)
 
Of hulle dit volkome verstaan het of nie, die belangrikheid van Johannes se woorde, "En die Woord het mens geword en onder ons kom woon," definieer die wyse manne se soeke, en of ons dit nou ten volle verstaan of nie, definieer vandag steeds ons soeke. Want, onderneem ons nie ook op een of ander manier 'n geloofsreis nie? Saam met hulle kan ons ook sê: "Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid." (Johannes 1:14b)
 
Mag ons hierdie Kersfees die lig van Immanuel, God is met ons, sien. Wanneer ons neerbuig en "die enigste Seun van die Vader, vol genade en waarheid" aanbid, mag ons volkome vervulling, blydskap en oorvloedige lewe ervaar.
 
Gebed: Here Jesus, gee aan my 'n ontmoeting met U wat my verstand sal verlig en my in staat sal stel om met 'n hart wat oorloop van liefde voor U neer te buig en U te aanbid. Amen