Louise Gevers 

'n Engel van die Here het aan hulle verskyn, en die hemelse glans van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het geweldig groot geskrik. Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle 'n goeie boodskap wat vir die hele volk 'n bron van groot vreugde sal wees: Lukas 2:9-10
 
Soos alle oumas kan ek werklik sê dat my kleindogter die slimste, oulikste en intelligentste kind is wat ek ken, en dat haar geboorte vir my 'n nuwe begin van pure vreugde en liefde gebring het. Ek staan telkens verras wanneer ek die wêreld en die wonder van lewe opnuut deur haar slim ogies wat alles fyn waarneem, sien.
 
My "Era van Verligting" het heel waarskynlik in graad 1 begin toe ek myself met baie entoesiasme bevind het in die fassinerende wêreld van lees, skryf, rekenkunde en, baie onverwags aan die einde van die jaar, my eerste ontmoeting met engele. Dit het groot konsternasie veroorsaak wat niks met die engele te make gehad het nie, maar wel met hulle vlerke!
 
Ons onderwyseres het aangekondig dat ons 'n Kersspel – 'n wat? – gaan opvoer. Ek het egter gou verstaan wat sy bedoel toe sy die grootste, blinkste vlerke wat ek nog ooit gesien het, uithaal en dit vir die langste meisie in die klas gee. Die res van ons het kleiner vlerkies gekry want ons was net deel van die hemelse menigte! Al wat ek wou hê was om Gabriël te wees, want ek het nie verstaan wie die werklike Ster van die vertoning was nie. Ek dink dit is 'n fout wat nie altyd slegs tot kinders beperk is nie.
 
Dit is opvallend dat die engel se boodskap aan die skaapwagters oor die geboorte van Jesus was insiggewend en ook vergesel van die hemelse glans van die Here wat "rondom hulle geskyn" het, 'n pragtige en gepaste metafoor vir die heiligheid, deursigtigheid en reinheid waarvoor die Een wat Homself "met lig omhul, soos in 'n mantel," (Psalm 104:2) staan. Dit is verder opvallend dat die eerste om die engel se blye boodskap te hoor, die nederige skaapwagters in 'n oop veld was.
 
Het die skaapwagters per toeval die boodskap eerste gehoor? Jesus het Homself later met hierdie werk, die nederigste van daardie tyd, geïdentifiseer en na Homself as ons almal se "goeie herder" verwys. "Soos 'n herder laat Hy sy kudde wei; in sy arms maak Hy lammers bymekaar; teen sy bors dra Hy hulle; die lammerooie lei Hy." (Jesaja 40:11)
 
Wat het dit vir die skaapwagters beteken toe die engel sê: "Eer aan God in die hoogste, en vrede op aarde vir die mense in wie God 'n welbehae het!” (Lukas 2:14) Ons weet dat dit hulle met die glans van die Here verlig het en hulle getransformeer het en dat hulle onmiddellik na Hom gaan soek het. Hulle is ook nie teleurgestel nie. CS Lewis sê: "Once in our world, a stable had something in it that was bigger than our whole world”.
 
Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus." (2 Korinthiërs 4:6)
 
Mag die heerlikheid van God oor ons skyn sodat ons met harte vol lewe ook die Christuskind kan vind en opnuut die goeie boodskap van die engel kan hoor wat ons in staat sal stel om deur sy [God] oë die lewe nuut te kan sien en vreugdevol saam met die engele te kan sing: "Kom buig daar in aanbidding, voor Jesus die Heer". 

Gebed: Hemelse Vader, gee dat die heerlike lig van die goeie nuus van die geboorte van ons Verlosser hierdie Kersfees ons harte en verstand sal verlig. Amen