Louise Gevers
 
So sê die Here, die Heilige van Israel, wat hom gevorm het: “Die dinge wat kom – vra My daaroor! Oor my kinders en my handewerk moet julle My mos opdragte gee! Dit is Ek wat die wêreld gemaak het, en die mense daarop het Ek geskep. Ek, ja, my hande het die hemelruim oopgespan, en aan al die hemelliggame het Ek opdragte gegee. Jesaja 45:11-12
 
Tydsberekening is die sleutelfaktor in die koördinering van aksies, die gee van 'n geskikte antwoord of om betyds te wees, en dit is nie altyd maklik om te bemeester nie.
 
Onlangs, toe ek die huis verlaat, het ek die diefalarm gestel, die deur gesluit en skaars twee treë weg het die alarm se skril geluid begin om in my ore te skreeu en my hart vinniger te laat klop. Sonder dat ek dit opgemerk het, het my man tuis gekom en, sekondes nadat ek uit is, die huis deur 'n sydeur binnegegaan en so 'n "comedy of errors" veroorsaak! In die lewe, met ons beperkte waarnemingsvermoë, is dit nie so maklik om dinge altyd reg te kry nie.
 
Dit is egter nie die geval met God nie. Die tydsberekening van die Een wat "aan al die hemelliggame opdragte gee," is volmaak. Hy is soos 'n magtige orkesdirigent wat elke sekonde beheer, en met sy oneindige tydsberekening 'n meesterstuk lewer.
 
Die Amerikaanse digter, Henry Van Dyke, stel dit so mooi: “The birth of Jesus is the sunrise of the Bible. Towards this point the aspirations of the prophets and the poems of the psalmists were directed as the heads of flowers are turned towards the dawn …” Soos ons voorheen genoem het, die Ou Testament beklemtoon God se verhouding met sy volk en die mensdom se behoefte aan verlossing. God se tydsbereking is presies en Hy beskik oor die grootste krag en mag.
 
Waarom is ons dan verbaas dat die keiser 'n bevel vir 'n volkstelling uitgevaardig het, wat verlang het dat Josef van Nasaret moes reis om geregistreer te word in die stad "wat Betlehem genoem word, omdat hy van die huis en nageslag van Dawid afkomstig was." (Lukas 2:4) en om so die profesie dat die Messias daar gebore sou word, te vervul? “Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om 'n heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer." (Miga 5:1)
 
Ons moet ook nie verbaas wees oor die engel wat God na Josef stuur wanneer hy op die punt staan om van Maria te skei nie, of wanneer Hy 'n wonderlike ster in die hemelruim laat verskyn betyds vir die wyse manne om hulle epiese reis te onderneem, of wanneer Hy engele stuur om die hemelruim te verlig die nag toe Jesus gebore is nie. Perfekte tydsberekening wat tot wonderwerke lei, is natuurlik vir God, en om deur die geskiedenis sy tere liefde aan sy kinders te bewys, is wat Hy die beste doen.
 
Dink maar aan die toegewyde Simeon wat die vervulling van die profesie beleef het toe Maria en Josef Jesus na die tempel gebring het. "Hy het deur die Heilige Gees 'n openbaring ontvang dat hy nie die dood sou sien voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. (Lukas 2:26) Presies op die regte tyd "gelei deur die Gees, het hy na die tempelterrein gegaan. … Simeon [het] Hom in sy arms geneem en God geloof: “Nou, Here, kan U u dienskneg in vrede laat sterf, soos U gesê het. My oë het inderdaad u verlossing gesien." (Lukas 2:27-30)
 
En wat van die bejaarde profetes, Anna, "wat nie van die tempelterrein af weggebly [het] nie" en wat "juis op daardie oomblik nader gekom en God gedank, en met almal wat na die bevryding van Jerusalem uitgesien het, oor die Kindjie gepraat [het]"? (Lukas 2:38) Elke profesie word volgens God se perfekte tydsberekening vervul.
 
As ons onsself aan Hom toevertrou, sal God se volmaakte tydsberekening ook in die poësie van ons lewens gevind word. 

Gebed: Wonderlike Vader, U skryf die poësie van my lewe en U vervul u wonderlike beloftes in Jesus "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja”; daarom sê ons deur Hom “amen” aan God, tot sy eer." (2 Korinthiërs1:20) Amen