Louise Gevers 

Die Here het toe vir Jeremia gesê: “Luister, Ek is die Here, die God van al die mense. Ek kan alles doen, niks is onmoontlik vir My nie. Jeremia 32:27, Bybel vir Almal
 
Maar Jesus het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik. Matteus 19:26, 2020-vertaling
 
Glo jy aan wonderwerke? Hierdie is die ideale tyd om daaroor na te dink want Kersfees gaan oor wonderlike geleenthede danksy 'n wonderlike God wat daardie eerste Kersfees in hierdie wêreld gebore is, en die hele wêreld uitgenooi het om hulle perspepsies vir altyd te verander.
 
Iemand wat moeilike omstandighede moet hanteer mag dalk sê: "Dit sal 'n wonderwerk wees as dit gebeur!" en daardeur iets van die twyfel weerspieël dat daar 'n vae moontlikheid is dat dit tog mag gebeur. 'n Stelling wat lui: "Ons God is die God van die onmoontlike," is 'n selfversekerde verklaring oor God se onbeperkte vermoë om fenomenale dinge te doen, en dit is 'n geloofsverklaring. Beide hierdie stellings verwys egter wel na wonderwerke.
 
Die Engelse skrywer, CS Lewis, het geskryf: "Miracles are a retelling in small letters of the very same story which is written across the whole world in letters too large for some of us to see.” Hierdie waarneming van God se krag om in die skepping te werk, en die wêreld deur 'n persoon se lewe te beïnvloed, vang beslis die kern vas van dit waaroor ons in Advent besin.
 
Groot of klein, hierdie verstommende gebeure kan slegs as wonderbaarlik beskou word, en alhoewel ons dit nie kan verstaan nie, of self sulke dinge kan doen nie, ontlok dit tog 'n reaksie by ons: hierdie gebeure is waar en sigbaar vir alle mense, gelowig of nie. Dit is 'n stelling oor die krag van van God wat ons kennis en begrip van Hom uitbrei en ons geloof en hoop versterk.
 
Alhoewel die maagdelike geboorte 'n deurslaggewende wonderwerk is van God wat Homself by 'n aardse gebeurtenis betrek en baie geloof vereis, is die bejaarde Elisabet se swangerskap nadat sy haar hele lewe onvrugbaar was, net so noodsaaklik as die van Maria vir God se verlossingsplan vir die wêreld.
 
Die wonderwerk van Johannes die Doper se bevrugting en geboorte het nie net vir sy toegewyde bejaarde ouers vreugde en begrip gebring nie, maar hy het ook vir die wêreld die beloofde voorloper verteenwoordig, noodsaaklik om die weg vir Jesus voor te berei. "Hy sal sal met die gees en krag van Elia voor die Here uitgaan om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring, en ongehoorsames na die denkwyse van regverdiges, en só 'n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak." (Lukas 1:17)
 
Die Here gaan voort om soos Hy goeddink wonderwerke in enige situasie te doen tot voordeel van mense, want "God kan alles doen, daar is niks wat Hy nie kan doen nie”. (Lukas 1:37, Bybel vir Almal) En selfs vandag nog word baie onmoontlike situasies op 'n wonderbaarlike manier opgelos.
 
Mis ons soms wonderwerke omdat ons nie met geloofsoë kyk na hoe God in die alledaagse lewe werk net soos Hy ook in die ewigheid werk nie?
 
Hy het na die wêreld gekom; kan daar 'n groter wonderwerk wees?
 
Wat glo jy vandag?
 
Gebed: Liefdevolle Vader, open my oë en my hart vir die grootste wonderwerk moontlik op aarde – om U, deur Jesus Christus ons Here, in my lewe te hê. Amen