Louise Gevers 

Daarom sal my Heer self vir julle 'n teken gee: Kyk, die jong vrou is swanger, en gaan 'n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem. Jesaja 7:14, 2020-vertaling
 
Immanuel, God by ons.
 
"En gelukkig is sy wat geglo het dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word", (Lukas 1:45) was die vreugdevolle woorde waarmee Elisabet haar niggie se geloof besing het. Ons kan ons maar net probeer indink hoe Maria moes gevoel het dat sy vir hierdie unieke en oorweldigende taak verkies is. God se koms na die wêreld in menslike vorm het vereis dat Hy uit 'n menslike moeder gebore moes word, en dan noodwendig 'n maagd sodat daar geen twyfel oor sy doel of goddelikheid kon wees nie.
 
Oor die jare is Maria op verskeie maniere vereer, maar 'n dekade gelede is 'n verbysterende mooi lied – Mary did You Know? – vrygestel, wat, deur van vrae gebruik te maak, die pragtige ironie van die moeder-kind verhouding ondersoek en daar word bepeins oor wat sy binne die konteks van Jesus se goddelikheid ervaar het. Die reël wat my diep getref het, is: “this child that you delivered will soon deliver you … that sleeping child you're holding is the great, I Am.” (https://www.youtube.com/watch?v=JPsgIhlYQmM)
 
Jesaja se profesie handel oor verlossing. Hierdie verstommende voorspelling, gemaak in 'n tyd toe Juda God nodig gehad het om hulle van hulle vyande te bevry, is 700 jaar later vervul toe die maagd, Maria, aan Jesus geboorte geskenk het en 'n nuwe geestelike begin in die vorm van die Messias vir die volk Juda ingelui is. Hy sou hulle verlos en, deur hulle, ook die heidense wêreld.
 
Hierdie profesie kom uit 'n tyd toe die Here Koning Agas van Juda verskeie geleenthede gegee het om “'n teken van die Here [sy] God [te vra]; vra diep af na die doderyk, of hoog na bo" (Jesaja 7:11) sodat Hy hom uit die hand van die vyand kon verlos. Agas het egter geweier om te vra en omdat hy reeds op vals gode vertrou het, gesê: "ek sal die Here nie uitdaag nie". (Jesaja 7:12) God het Agas uiteindelik aan sy eie boosheid oorgelaat en Hy het self sy eie teken gegee. Sy wonderlike plan was om, gebore uit 'n maagd, as Immanuel na die aarde te kom om die wêreld te red.
 
Later in die geskiedenis het God Maria uitgekies om aan Immanuel geboorte te gee. In skerp teenstelling met Koning Agas het Maria met geloof en vertroue in God op sy boodskapper gereageer, gewillig om haar aan sy plan oor te gee. Maria se geloof het sedertdien aan haar erkenning gebring en, ten spyte van die twyfel van diegene wat die maagdelike geboorte en haar integriteit bevraagteken, is haar getuienis ongeskonde.
 
Soms, soos Agas, sukkel ons om God om hulp te vra want ons het reeds ons eie pad gekies. Of soms sukkel ons om, soos Maria, God se wil vir ons lewens te aanvaar want ons is bang wat sal gebeur as ons uit ons gemaksone kom. Maar wat ook al ons keuse, ons sal met die gevolge moet saamleef en die uitkoms sal in die geskiedenis opgeteken word.
 
Terwyl ons gedurende hierdie Advent ons harte ondersoek, mag geloof ons lei. 

Gebed: Here, onderrig my in die pad van u voorskrifte … Laat my hart na u bepalings neig, en nie na winsbejag nie. Wend my oë daarvan af om na nuttelose dinge te staar; … Neem die bespotting wat ek vrees van my weg, want u beslissings is goed. Kyk, ek verlang na u opdragte; hou my lewend deur u geregtigheid. Amen (Psalm 119:33a,36-37a,39-40)