Louise Gevers
 
Want 'n kind is vir ons gebore, 'n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
Jesaja 9:5, 2020-vertaling
 
Is dit nie wonderlik om te sien watter opgewondenheid en afwagting die geboorte van 'n baba veroorsaak nie, hoe dit onmiddellik 'n impak op die leefwêreld van sy familie het en hulle lewens vir altyd verander! Geboorte is 'n wonderwerk met lewegewende en lewensveranderende kwaliteite, en of ons dit nou in 'n fisiese of abstrakte manier beskou, die wortels van lewe is in God want Hy gee lewe. Hieruit kom groei en ontwikkeling.
 
Fisies begin die lewe vir elkeen van ons in die donker warmte van ons moeder se baarmoeder, waar ons "aanmekaargeweef" word (Psalm 139:13) en dan, op die bepaalde tyd, word ons in hierdie harde wêreld gebore. Eerder as die einde van 'n ondervinding, lei geboorte ons verder na 'n ander geboorte of 'n nuwe begin in ons lewens wat ons in staat stel om met begrip in kennis te groei.
 
God het dieselfde modus operandi gebruik om na die wêreld wat Hy gemaak het, te kom. Sy briljante, eenvoudige plan met integriteit en perfekte tydsberekening, was genoeg om die wêreld radikaal op sy kop te draai.
 
Om as 'n babatjie te kom, was sekerlik die nederigste opsie denkbaar vir dié Een "wat alleen onsterflikheid besit, [en] ontoeganklike lig bewoon" (1 Timoteus 6:16). Hy pas sy plan aan by die woorde wat deur die eeue deur die profete gespreek is en op dowe ore geval het. Dit wys duideik sy boodskap van verlossing.
 
God se liefde vir die mensdom is offervaardig, nie sentimenteel nie. Hy het na die wêreld gekom in die gestalte van 'n mens, sodat Hy volkome met ons kon identifiseer en ons behoeftes verstaan. Ons kan sy integriteit sien deur Jesus wat die gebrokenheid van die mens volkome op Hom geneem het en tog wonderbaarlik deur sy krag gedien en gewys het dat: "Groter liefde as dit het niemand nie, dat iemand sy lewe aflê vir sy vriende". (Johannes 15:13)
 
Maar alles het met 'n kind begin.
 
Let op hoe Jesaja begin deur die natuurlike vordering van God se plan waarmee enigeen kan identifiseer, te beskryf: 'n kind … 'n seun … ['n heerser], maar dan eindig hy met 'n verstommende beskrywing wat hulle nie kon verstaan nie: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
 
Jesus, "die uitstraling van God se heerlikheid, en die ewebeeld van sy wese" (Hebreërs 1:3) was geen gewone kind nie. Tog is Hy op 'n doodgewone manier gebore, in 'n buitengewone geboorteplek. Daar was geen spesiale sorg vir Hom nie, geen mediese personeel teenwoordig nie – slegs 'n aantal diere wat toekyk hoe sy moeder Hom in hulle krip neerlê.
 
Die babatjie wat die hoop van die wêreld in Hom gedra het, sou doen wat geen kind voor Hom of geen kind na Hom ooit sal kan doen nie: Hy was die offer wat God verlang het om die wêreld te verlos. Hy sou, as die Verlosser van die wêreld, die pad voorsien sodat almal deur Hom na God kan kom.
 
Gebed: Liefdevolle Vader, help die wêreld om die nuwe begin raak te sien wat daardie eerste Kersfees deur Jesus moontlik gemaak is. Help ons om die belangrikheid van u koms as 'n kind na die wêreld werklik te waardeer. Amen