Deur Benescke Janse van Rensburg 

Ná gister se storie oor die kind wat vir die pop gebid het, het Wilmie Smith dié storie in aansluiting daarop gedeel:
 
Wilmie: “As klein dogtertjie het ek saam met my ouers op ’n plaas gebly ’n hele ent weg van die dorp af. Op ’n dag was my ma op pad dorp toe. Ek wou baie graag ’n yoyo hê – ’n Fanta een. Ek het egter nie vir my ma enigsins daarvoor gevra voordat sy vertrek het nie.
 
“In die kombuis het ek as klein dogtertjie by die wasbak op die vloer gaan sit en Jesus gevra of ek asseblief een kan kry en ook dat Hy my ma sal sê om een te koop.
 
“Terug by die huis het my ma haar hand in haar handsak gesteek en tot my verbasing ’n Fanta yoyo uitgehaal. Dit is dalk klein, maar vir my was dit ’n geweldig groot oomblik om te besef dat God werklik luister wanneer ons bid - selfs al is dit oor iets wat vir ander klein en selfs ‘onnodig’ lyk.”
 
Wilmie is reg. God wil hê dat ons met Hom moet gesels, want Hy begeer ’n verhouding met ons elkeen. As iets vir ons belangrik is, is dit vir Hom belangrik, want ons is vir Hom belangrik. In Matteus 18 roep Jesus ’n kind na hom toe wanneer Hy met die mense praat: “Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie! Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.”
 
Ons kan leer by kinders as dit kom by onwrikbare geloof. Dít raak God se hart. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat ek my geloof en vertroue in U kan plaas in elke situasie. Versterk asseblief vandag my geloof as dit begin wankel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.  
 
·         SWART VRYDAG: Spesiale aanbiedinge vir Benescke Janse van Rensburg se boeke: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/  Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Vir nog stories:
o    Webwerf: www.benescke.co.za
o    Facebookhttps://www.facebook.com/storiesvanhoop/
o    Instagramhttps://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
 
·         TerugvoerVir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..