Deur Benescke Janse van Rensburg 

Een punt. 27-26. Dit was só naby, maar op die einde ook só vêr vir Suid-Afrika om Saterdag in ’n volgepakte stadion in Twickenham die oorwinning oor Engeland te behaal.
 
Teleurstelling in enige area bly sleg. Dit is sleg as ’n droomverhouding eindig. Dit is sleg as ’n finansiële besluit skeefloop of as jy as top 2 kandidate vir ’n werksgeleentheid uitval. Dit is selfs sleg om die teleurstelling te beleef wat jou kind beleef as hy of sy hard geoefen het vir ’n bepaalde sportsoort en nie ’n medalje wen nie.
 
Tog glo ek dat daar saam met die sleg van ’n teleurstelling ook ’n geskenk daarin opgesluit lê. Dit forseer ons tot stilstand en selfondersoek. Dit maak ons opnuut afhanklik van God. Dit gee ook momentum vorentoe as dit reg hanteer word. ’n Engelse digter beskryf dit só: “Disappointments are God’s appointments.”
 
Te midde van teleurstellings kan ons maar ons ore spits, want as ons mooi luister sal ons beleef hoe God ons deur sy Heilige Gees bemoedig. Hy het dit met die Israeliete gedoen in die tyd van hulle grootste teleurstelling toe hulle in ballingskap weggevoer is. In Jeremia 29:11 sê God: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!”
 
God wil ons steeds in ons teleurstellings, seer en selfs selfverwyt kom ontmoet. Hy wil ons bemoedig om sterk te staan. Kom ons raak ’n slag stil, kyk weg van ons seer en luister na wat Hy deur sy Heilige Gees vir ons wil sê. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat U planne van voorspoed vir my lewe ook het. Help my om te midde van elke teleurstelling my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Meer stories:
o    Webwerf: www.benescke.co.za
o    Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
o    Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..