Deur Benescke Janse van Rensburg 

Een koue, stormagtige aand het ’n bejaarde paartjie ’n hotel in Philadelphia binnegestap. Hulle was op soek na ’n kamer. Die stad se hotelle was egter stampvol weens ’n konferensie in die dorp. George, die vriendelike ontvangsklerk het die paartjie meegedeel dat alhoewel hy altyd probeer om hulle gaste wat hulle nie kan help nie by ander plekke te akkommodeer, selfs dáár geen plek was nie.
 
Die paartjie het omgedraai om weg te stap, toe George ’n plan bedink. “Wag ’n bietjie,” het hy hulle teruggeroep. “Ek het dalk ’n oplossing.” Hy het voorgestel dat hulle in sy kamer oornag. Alhoewel dit nie so luuks soos die hotel se kamers was nie, sou hulle ten minste gemaklik wees. Aanvanklik het die paartjie teë geskop. Waar sou die arme klerk slaap? George het hulle egter verseker dat hy baie ander werk het om te voltooi. Die bejaarde paartjie het sy aanbod aanvaar.
 
Die volgende oggend het die paartjie dankbaar afskeid geneem van die moeë George. “Jongman,” het die bejaarde man begin, “iemand soos jy behoort die beste hotel in Amerika te bestuur. Wie weet, dalk bou ek dit nog eendag vir jou?” George het net geglimlag en hulle afgesien.
 
Drie jaar later ontvang George ’n brief in die pos – met ’n nota en ’n retoerkaartjie na New York. Dit was van die bejaarde man. Hy het George genooi om by hom te gaan kuier.
 
In New York het George na die man gestap op die plek waar hulle afgespreek het om mekaar te ontmoet. Glimlaggend het die bejaarde man sy hand na George uitgesteek: “Hallo George. My naam is William Waldorf Astoria.” Hy het na die hotel met rooierige klip ’n entjie van hulle af gewys. “Ek het hierdie hotel op die hoek gebou en ek wil graag hê dat jy my eerste bestuurder moet word. Stel jy belang?”
 
Dít was George Charles Boldt (1851-1916) se groot deurbraak. Nie net het hy die William Waldorf Astoria in een van die gewildste hotelle in Amerika verander nie; hy het self ’n miljoenêr geword en ’n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die hotelbedryf in Amerika.
 
In Psalm 16:6 lees ons: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” Ook in Lukas 16:10 staan geskryf: “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in die groot dinge oneerlik.”
 
In elke situasie en seisoen van ons lewens word ons getoets. Sodra ons die karaktertoetse slaag, ontvang ons alles wat God reeds vir ons afgemeet het. Kom ons bly getrou. Ons weet nooit wanneer ’n “William Waldorf Astoria” ons pad mag kruis nie. Sterkte.
 
Vader God, dankie dat U ’n bloudruk vir my lewe het. Help my asseblief om getrou te bly in die seisoen waar ek tans is met die wete dat U my deurbraak op die regte tyd sal bring. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Sien foto George Charles Boldt:
o    Webwerf: www.benescke.co.za
o    Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
o    Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..