Deur Benescke Janse van Rensburg 

In ’n videogreep wat ek die week gekyk het, sien ’n mens op die sekuriteitskamers ’n egpaar wie se 10 maande oue babaseuntjie in ’n restaurant aan ’n stuk pannekoek begin verstik. Aanvanklik slaan die ma op die kind se rug by die gedagte dat die pannekoek sal uitspring. Dit gebeur nie.
 
Sodra die ouers sien dat die kind se oë omdop en hy blou begin word in die gesig, spring hulle op om desperaat na omstanders om hulp uit te roep. Op die sekuriteitskamera met ’n beeld van die hele restaurant kan ’n mens sien hoe een van die restaurantgangers opstaan en by die deur uitstap na sy voertuig toe. Oomblikke later is hy terug met iets in die hand. Hy stap reguit na die ouers, neem die bewustelose baba en plaas hom op ’n tafel. Binne ’n paar sekondes kan die kind weer asemhaal.
 
Wat die man gaan haal het in sy voertuig, was ’n apparaat wat jy oor iemand se mond sit wat verstik. Soos ’n stofsuier suig die apparaat die voorwerp in die keel uit. Wanneer iets in hulle kele vassit en soos ’n stofsuier suig dit die voorwerp uit. Die interessante is dat hierdie man, die held van die dag, daardie apparaat reeds vir vyf jaar in sy voertuig gehad het en dit nooit gebruik het nie – tot daardie dag!
 
Wanneer ons deur uitdagende situasies gaan, is dit soms moeilik om die waarde daarvan raak te sien. Wat ons egter moet onthou is dat God die toekoms ken en bepaal. In Jesaja 46:10 sê Hy: “Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek.” Ook in Romeine 8:28 lees ons: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom lief het . . .”
 
Die slegte wat ons vandag moet verwerk (die dood van ’n geliefde, die diagnose met ’n siekte, jou kind met spesiale behoeftes, finansiële verlies, aflegging by die werk of selfs ’n egskeiding) en wat totaal onnodig voel, mag dalk juis dít wees wat ons vul met wysheid en empatie om iemand anders by die grootste kruispad in hulle eie lewens bystaan.
 
Die weldoener het vir vyf jaar lank die apparaat saam met hom in sy voertuig rondgery. Was dit toevallig dat hy daardie oggend in daardie restaurant ’n paar tafels weg van daardie gesin gesit het? Het God hom dalk daar geplaas om die kind se lewe te red? Sterkte.
 
Vader God baie dankie dat ek my lewe aan U kan toevertrou. Help my om die karaktertoetse te slaag sodat ek ’n bruikbare instrument in U hande kan wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Sien video van die insident:
o    Webwerf: www.benescke.co.za
o    Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
o    Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..