Deur Benescke Janse van Rensburg 

By die huis was Kristy en Jared Owens, ’n paartjie uit Texas in Amerika se tasse die regte gewig om na Las Vegas te vlieg. Groot was hulle verbasing toe die lugwaardin op die lughawe sê dat hulle tasse nou 3kg te swaar was. Hulle het een van die tasse oopgemaak en tot hulle verbasing Icky, hulle geliefde Chihuahua ontdek wat in een van Jared se cowboystewels weggekruip het. Icky moes in die tas ingekruip het toe nie een van hulle gekyk het nie.
 
In ons lewens gebeur dit ook dat dinge in ons harte inkruip as ons nie kyk nie. Dinge soos bitterheid, aanstoot, minderwaardigheid, woede, noem dit. As ons dit nie vasvat nie, is dit soos onkruid wat begin groei en mettertyd beïnvloed hoe ons teenoor mense optree. Dit kan selfs veroorsaak dat ons nie meer God se stem hoor nie.
 
Die Psalmdigter het dit verstaan. In Psalm 24:3-4 lees ons: “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is . . .” Ook in Psalm 139:23-24 skryf hy: O God, U moet diep in my kyk, U moet weet wat binne-in my hart is. . . U moet my lei op die pad na U toe” (Die Bybel vir Almal vertaling). En dan in Spreuke 4:23: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.”
 
Sukkel jy soms om God se stem in jou lewe te hoor? Is daar dalk iets wat in jou hart ingekruip het en waarvan jy ontslae moet raak? Sterkte.
 
Vader God, ek wil graag U stem deur u Heilige Gees duideliker hoor. Wys my asseblief as daar iets in my lewe is wat dit verhoed. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Sien foto van Kristy en Jared Owens en hulle Chihuahua:
o    Webwerf: www.benescke.co.za
o    Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
o    Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..