Deur Benescke Janse van Rensburg 

Ons almal ken die storie van Jona. Die profeet wat God na Nineve gestuur het om die mense te waarsku om op te hou sondig anders sou verwoesting volg. Uit vrees klim Jona op die skip na Tarsus. ’n Storm tref die skip, Jona word oorboord gegooi en ’n vis sluk hom in. In die duisternis van die vis se maag het Jona berou en die vis spoeg hom uit op die strand voordat hy wel na Nineve gaan. Dit is tot waar die meeste van ons die storie ken.
 
Wat het egter gebeur nadat Jona die boodskap vir die mense in Nineve gegee het? Die mense trek begrafnisklere aan en begin onmiddellik vas as bewys van hulle berou. Wat doen God? Hy sien hulle raak. Hy vergewe hulle en Hy sê dat hy nie die ramp gaan stuur nie.  ’n Mens sou dink dat dit Jona sou bly maak. In Jona 4 lees ons egter dat hy kwaad was. Hy gaan sit buite die stad en wens dat hy kon sterf. God vra vir Jona: “Jona, het jy rede om kwaad te wees?” Jona dink hy het.
 
God laat ’n komkommerplant opkom en groei sodat dit aan Jona genoeg skaduwee kan gee om onder te sit. Jona is bly daaroor. Die volgende oggend stuur God egter ’n wurm om die plant op te vreet. Dit het Jona weer kwaad gemaak. In Jona 4:10-11 sê God vir Jona: “Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”
 
God het oor die mense en diere van Nineve omgegee. Hy het hulle immers gemaak. Hy gee ook om oor jou en my. Ons behoort aan Hom. Juis hierom wil Hy nie hê dat ons in sonde vasgevang moet word wat tot ons ondergang sal lei nie.
 
In Johannes 3:16 lees ons: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Ook in Psalm 103:12-13 lees ons: “So vêr as die ooste van die weste af is, so vêr verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom dien.”
 
Die vyand wil ons beroof van ons vrymoedigheid om met berou na God te gaan. Kom ons herinner mekaar egter dat God ’n God van tweede kanse is – omdat Hy oor ons omgee. Sterkte.
                        
Vader God, baie dankie dat daar by U tweede kanse is. Vergewe my asseblief vir (noem spesifieke area). Lei my om weg te stap daarvan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Nog stories:
o    Webwerf: www.benescke.co.za
o    Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
o    Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..