Deur Benescke Janse van Rensburg 

Tydens die oproer vroeër die jaar in KwaZulu-Natal is ’n blou San Pablo-leerbank uit ’n meubelwinkel in Springfield gesteel. ’n Paar dae later het die winkeleienaars geskok op sosiale media gesien hoe hulle bank, ter waarde van R70,000, in stukke op ’n sypaadjie in ’n informele nedersetting staan. Bo-op ’n gedeelte van die bank het twee vroue gesit en gesels – totaal onbewus van die waarde van die bank.
 
Met moeite kon die eienaars die al die stukke van die San Pablo-leerbank terugvind. Die skeure in die leer en die gebreekte pote is reggemaak en alhoewel die bank nie meer te koop aangebied word nie, kom mense spesiaal na die winkel om die bank te sien en selfs om ’n foto daarop te neem.  
 
Alhoewel God ons elkeen met ontsettende waarde geskep het – net soos hierdie San Pablo-leerbank, tref slegte situasies of teleurstellings soms ons lewens wat ons laat voel soos die bank wat verlate op ’n sypaadjie staan met skeure aan ons leer en gebreekte pote. Dit beroof ons van ons selfvertroue en selfwaarde en los ons met gebroke harte.
 
God is egter stééds in staat om ons tot ons oorspronklike glorie te herstel. In Jeremia 30:17 sê Hy: “Ek sal jou gesond maak, jou wonde genees . . .” In 1 Petrus 5:10 lees ons: “God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, weer self oprig en julle moedig, sterk en selfstandig maak.”
 
Die oorspronklike blou San Pablo-leerbank is vandag selfs méér waardevol weens die ervaring waardeur dit gegaan het. Net so kan God ons slegte ervarings gebruik om ons te vorm om selfs ’n groter impak in ander se lewens te hê. Hy wil ons genees, oprig, moedig, sterk en selfstandig maak. Kom ons gee Hom ’n kans om dit te doen. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat U my ken en lief het. Help my asseblief om opnuut my waarde te besef waar ek dit begin verloor het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         Sien foto van die San Pablo bank en ook waar dit in die informele nedersetting gestaan het by:
o    Webwerf: www.benescke.co.za
o    Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
o    Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..