Deur Benescke Janse van Rensburg 
 
Verlede week het ’n 41-jarige vrou, sonder ’n draad klere, by ’n bank in die Strand ingestorm. Al skreeuend het sy verwoesting begin saai. Dít het veroorsaak dat klante geskok uithardloop en werknemers ongemaklik rondstaan. ’n Video van die voorval het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Die kommentaar uit die publiek was ongenaakbaar. “Die vrou is mal,” skryf een. “Ek het nou so lekker gelag,” skryf ’n ander. En nog een beskryf die gebeurtenis as “lagwekkend en totaal ongehoord”. 
 
In Sondag se koerant deel die vrou se broer haar kant van die storie. Vier jaar gelede was die vrou ’n suksesvolle entrepreneur. Sy het ’n wassery gehad, geld uitgeleen vir die publiek teen rente en sy het kamers in haar huis verhuur vir ’n ekstra maandelikse inkomste. Elke Sondag was sy in die kerk en dit was sy wat haar broer “na die kruis gelei het waar hy sy drinkery laat staan het”.
 
Êrens het dinge egter vir haar begin skeefloop. Die geldleners het nie hulle uitstaande skuld betaal nie. Uit woede het die vrou een van hulle met kookwater bestook. Dít het veroorsaak dat sy vir waarneming na ’n psigiatriese hospitaal gestuur is. In die tyd wat sy weg was, het haar vervreemde man die uitstaande geld van geldleners ingevorder en hy is daarmee fort. Sy het alles verloor. Kort hierna het haar broer en ma gesterf. Die skok en teleurstelling van al hierdie dinge het die vrou emosioneel geknak en sy het totaal buite karakter begin optree. 
 
’n Mens kyk maklik na ’n ander persoon se optrede – in die werkplek, in die gemeenskap of selfs soos hierdie vrou in die bank – en lewer ’n opinie of fel ’n oordeel. Dít totdat ’n mens die volle storie ken. Was die vrou reg? Nee. Het ek empatie vir haar? Ja. Ek dink daar is heelwat mense wat soos sy rondstap met ’n gebroke hart en nie weet waar om hulp te kry nie. Die gevaar met onverwerkte trauma is dat dit tot ’n uitbarsting kan lei wat nie net ander se lewens beskadig nie, maar ook jou eie. 
 
God wil ons kom ontmoet en kom genees in ons seerste seisoene. Hy weet wat ons benodig en Hy kan ons seer kom wegneem. In 1 Petrus 5:7 lees ons: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” Ook in Jesaja 41:10 praat God self en sê: “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”
 
God genees en herstel. Kom ons gee Hom ’n kans. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie dat ek elke seer en teleurstelling na U kan bring. Lei my asseblief vandag met (noem jou situasie). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
• FOTO: Sien foto by
Webwerf: www.benescke.co.za
Facebookhttps://www.facebook.com/storiesvanhoop/
Instagramhttps://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
 
• Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys. 

• TerugvoerVir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..