Deur Benescke Janse van Rensburg 

Daar is krag in gebed vir ons kinders. Vroeër die jaar het ek ’n Bid vir jou kind-gebedreeks aangebied. Die terugvoer van mense wat steeds getuig dat God hulle kinders aangeraak het, bly vir my verstommend. Christina is een van hulle. Hier is haar getuienis.
 
Christina: “My jongste kind, Inke is ’n introvert. Ons kon dit reeds vroeg optel aangesien haar ouer suster ’n ekstrovert is.
 
“Die uitdaging het egter in die klasverband begin kop uitsteek. Die juffrou het vir ons laat weet dat sy sukkel om vir Inke ’n vorderingsverslag te skryf aangesien ons kind nie in die klas praat nie. Sy het onder meer nie geweet of ons kind regtig haar vorms en kleure ken nie. Die klasmaats wou ook nie regtig aan Inke se tafel sit met pouse aangesien sy nooit gepraat het nie. Die juffrou het voorgestel dat ons haar vir ’n gehoortoets neem. Ons het. Haar ore is uitgespuit, maar Inke het steeds nie gepraat nie.
 
“’n Vriendin van my wat as ’n sielkundige praktiseer, het my vir koffie geneem. Sy was bekommerd oor Inke. Haar voorstel was dat ons Inke na ’n pediater neem wat spesialiseer in kinders se ontwikkeling. Ons wou ’n plan beraam om die uitdaging te hanteer voordat dit haar emosioneel ook begin affekteer. Ná afloop van die sessie by die pediater ons meegedeel dat alhoewel sy as dokter bekend is om selfs uit die skaamste kind ’n reaksie te kry, Inke nie ’n woord tydens die sessie gepraat het nie. Hierdie het my as ouer geweldig angstig gemaak.
 
“Terug by die huis het ek ’n vriendin gebel en gevra dat sy na ons huis kom sodat ons saam vir Inke kon bid. Ons het op die bank gesit terwyl Inke op die mat gesit en speel het. Ek dink nie eens sy was daarvan bewus dat ons vir haar bid nie. Die Sondag ná ons gebid het, was dit dié vriendin se beurt om Sondagskool by die kerk te lei. Groot was ons verbasing toe sy vertel dat Inke haar hand opgesteek het om vrae in die klas te vra. Hierdie het alles tydens die skoolvakansie gebeur.
 
“Terug by die skool, het die juffrou my gebel en gevra of ons met Inke gepraat het. Die ommeswaai was geweldig groot. Inke het skielik vir die juffrouens drukkies gegee en met hulle gepraat. Ná buite speeltyd was dit selfs Inke wat die kinders van buite na die klas teruggeroep het.
 
“Die verskil in Inke het aangehou – soveel so dat die juffrou my nou die dag vertel het dat sy Inke in die klas moes stilmaak. Waar ander ouers hulle dalk hiervoor sou skaam, was dit vir my soos musiek in my ore! God het ingegryp en ’n wonderwerk in ons kind se lewe kom doen. Daar is waarlik krag in gebed.”
 
Christina is reg. Daar is geweldige krag in gebed. In Psalm 127:3 lees ons dat kinders ’n geskenk uit God se hand is. Hulle kom direk van Hom af. Ook in 1 Johannes 5:14 lees ons: “Nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra.” 
 
Ons kinders behoort aan God. Wanneer ons hulle aan Hom opdra om in hulle lewens in te gryp, hoor Hy. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie vir my kinders en/of kleinkinders (noem hulle name). Dankie, dat U hulle aan my toevertrou het. Vandag wil ek vir hulle elkeen bid. Beskerm en bewaar hulle en help hulle om U te ken. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         FOTO: Sien foto van die Christina en Inke by
o    Webwerf: www.benescke.co.za
o    Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/
o    Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..