Deur Benescke Janse van Rensburg 

Dit is iets wat maklik gebeur. Dit is ’n strik wat ’n mens maklik in trap. Die Israeliete in die woestyn het daarin getrap. Ook nege van die tien melaatses wat Jesus genees het. En selfs ’n magtige koning soos Salomo was nie bestand daarteen nie.
 
Wat is hierdie strik? Ondankbaarheid. Onvergenoegdheid. Trots.
 
Die Israeliete het beleef hoe God hulle uit die Egipte bevry het. Hy het vir hulle ’n pad deur die Rooi See oopgemaak. Hy het hulle bygestaan in die veldslag teen die Amalekiete en Hy het daagliks vir hulle manna en kwartels voorsien. Hulle het egter nie God se voorsiening raakgesien nie. Hulle het begin kla en na Egipte terugverlang.
 
Tien melaatse mans is genees. Net een het na Jesus teruggedraai om Hom vir sy genesing te gaan bedank. Waar was die ander nege?
 
En Salomo wat alles gehad het en God intiem gedien het, het mettertyd saam met sy buitelandse vroue afgode begin aanbid en van God weggestap. Hy het God nie meer raakgesien nie.
 
God sien ons in moeilike tye raak. Hy hoor ons gebede. Die vraag is: Sien ons Hom nog raak? Luister ons na wat God vir ons tydens gebed wil sê of het ons bloot ’n lysie wat ons aframmel voordat ons opstaan en aangaan met ons dagtaak? Onthou ons om vir Hom dankie te sê vir deurbrake waarvoor ons gebid het? Is God steeds ons eerste prioriteit of het ons soos Salomo geword wat iets anders bó God in ons lewens begin plaas het?
 
In Jakobus 4:8a lees ons: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.” Ook in Hebreërs 11:6 lees ons: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”
 
God sien ons raak. Sien ons Hom nog raak?
 
Vader God, ek is jammer vir elke keer as ek iets anders as U eerste in my lewe geplaas het. Maak my asseblief bewus as daar enigiets is wat ek in my lewe moet verander. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.  
 
·         Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Die ander getuienisboek, God was Dáár is ook in herdruk beskikbaar. Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Terugvoer: Vir enige vrae of as jy jou getuienis wil deel as God vir jou/julle as gesin iets kom doen nie, wat ons met lesers kan deel, stuur vir ons ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..