Carina Francke 

”Ek is die ware wingerdstok, en my Vader is die boer. … Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” Johannes 15:1,5, 1983-vertaling
 
Dit is asem-intrek oomblikke wanneer jy vanuit 'n helikopter afkyk op hektare wingerd in die Kaap. Hoogseisoen is dit 'n geilgroen bedekte landskap wat jou waagmoedig wil maak. Spring uit en vryval! Doer onder lê mos 'n dik kombers van groen wat jou landing doeksag en stroopsoet sal maak. Of nie.
 
Op die grond in die wingerd, onthou jy die Sondagskoolles van die wingerdstok, die wingerdboer, en van jou, 'n loot aan die wingerdstok. Jy onthou heel eerste die snoei gedeelte. As die loot nie vrugte dra aan die wingerdstok nie, word dit summier afgesny. Dra die loot wel vrugte, word dit reg gesnoei sodat dit meer vrugte kan dra. Genadiglik nie met ’n afknip snoeiskêr nie, maar met: “die woorde wat Ek (die wingerdstok, Jesus) vir julle gesê het” (Johannes 15:3). Die woorde waarvan Jesus praat, is die Godgeïnspireerde Skrif wat steeds vandag ons kompas is om reg te leef. (Lees gerus 2 Timoteus 3:14-17)
 
Maar terug na loot en vrugte. Jy as gelowige is 'n loot, ingeënt op die wingerdstok, Jesus Christus. Hy sê van ons:”Julle moet in My bly en Ek in julle.” (Johannes 15:4) Anders gestel: Maak jou huis in my, soos Ek myne in jou maak. Waarom die klem hierop? Net soos 'n loot, is dit onmoontlik vir die Christusgelowige om vrugte te dra as hy nie aan Jesus, die wingerdstok vasgeheg bly nie. Hoekom nie? “… want sonder My kan julle niks doen nie” (Johannes 15:5) Nie eers 'n trossie druiwe dra nie! Jy sien, jou groeikrag en vrugte kom van die wingerdstok solank jy daaraan vasgeheg is. Soek jy losmaking, verdroog jy mettertyd en verdroog tot 'n onvrugbare loot sonder vrug en wat vir niks anders deug as om afgesny en weggegooi te word nie. (Johannes 15:6).
 
Jy sien, Jesus, die wingerdstok, is die bron, die voorsiener van die lewensap wat vrugte voortbring. Ons is in der waarheid maar net die draers daarvan. Maar net vir solank jy in Hom bly en Hy in jou. Wat 'n mens laat wonder hoe bly jy in Christus, die wingerdstok? Hy antwoord self: As jy jouself tuismaak by My en my woorde is tuis by jou, kan jy verseker wees dat wat jy ookal vra, sal Ek na luister en daarop reageer. (Lees Johannes 15:7)
 
Om die rede vra hierdie loot skaamteloos vandag die wingerdboer se hulp om my te help om aan te hou glo dat Jesus die Seun van God is (1 Johannes 4:15); om te bly glo in die Goeie Boodskap wat ek gehoor het (1 Johannes 2:24); om te doen wat God sê (1 Johannes 3:24); en om vir die res van my lewe in liefde te leef met die liggaam van Christus. (Johannes 15:12)
 
Gebed: Vader, hier tussen die geil groen wingerdstokke, swaar gelaai met druiwevrug, sê ek dankie dat U teenwoordigheid elke oomblik in my lewe soos 'n dik groen kombers om my vou. Lof en eer aan U! Amen