Carina Francke 

Caesar is nie meer Caeser nie; Alexander die Grote is nie meer Alexander die grote nie, maar Jesus Christus die Lewende, is nog altyd Jesus en sal dit altyd en ewig wees. J.Donne Illustrasies p358 – “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” Hebreërs 13:8
 
“Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie? Lukas 2:49 (Lees Lukas 2:41-52, 1983-vertaling)
 
Wat sou jou reaksie wees as jou twaalfjarige seun soek-raak na die Paasfees wat pas gevier is? Ek vermoed dieselfde as Jesus se ouers. 'n Angstige gesoek na Hom bring hulle drie dae later eers in die plek waar sy prioriteit en toekoms lê – in die huis van sy Vader. Aan die voete van geleerdes het Hy vrae gevra, en gesit en luister, en moes vermoedelik self ook vrae beantwoord. Lukas 2:47 sê hieroor: “Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en antwoorde." Ek kan nie help om te wonder nie: was die onderwerp van verlossing of redding deur die Verlosser, Christus die Here, dalk op die tafel vir bespreking?
 
Nietemin, Jesus is saam met sy ouers terug na Nasaret, Hy het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem. (Lukas 2:52) En, hoor mooi, Hy was sy ouers onderdanig. (Lukas 2:51) Wat 'n kragtige getuienis vir die Seun van God! Wat 'n voorbeeld vir ons, die mens!
 
Toe die tyd aanbreek, word Jesus vir sy verlossingstaak op aarde bekragtig toe Hy in die Jordaan gedoop word. By hierdie geleentheid bevestig die Heilige Gees Hom sigbaar, en sy Vader verklaar hoorbaar: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug ek My.” (Matteus 3:17b)
 
Direk hierna lei die Gees Jesus die woestyn in om deur die duiwel versoek te word. (Matteus 4:1-11). Jesus weerstaan en versplinter egter elke versoeking deur 'n waarheid uit die Woord.
·         Vars brood uit klippe staan opsy vir die woorde uit God se mond – dit is Sy woorde wat lewe gee! (vers 4)
·         As jy afspring van 'n hoogte in die hoop dat engele jou sal red, daag jy God uit. (vers 5-7)
·         Aanbidding kom God alleen toe en Hy alleen mag gedien word. (vers 10)
·         En met Goddelike outoriteit neem Jesus gesag oor Satan se arrogansie: “Gaan weg, Satan!” Hy blaas die aftog en het Jesus vir 'n tyd met rus gelaat. En Jesus? Engele het gekom en Hom gedien. (vers 11)
 
'n Vraag aan jou: Hoe vaar jy in hierdie drie areas wanneer jy versoek word?
 
Jesus Christus, die Lewende, is nog altyd Jesus, en sal dit altyd en ewig wees. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”(Hebreërs 13:8)
 
Wees jy net nie een van diegene wat swig onder Satan se aanvalle en versoekings nie! Jesus is jou inspirasie en krag om te volhard in jou geloof in die Redder van die wêreld.
 
Gebed: Vader, dankie vir u lewende Woord en die onbevlekte lewe van u Seun wat hoop en lewe aan u kinders gee. Amen