Carina Francke 

“Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees.” Jesaja 41:4b, 1983-vertaling. Lees van vers 1-4
 
Wanneer die lewe 'n draaibal in jou rigting afstuur, is skok en ongeloof jou aanvanklike reaksie. Veral as dit vasknoop en geen aanstaltes maak om sy ry te kry nie. Ek vermoed dat die Israeliete wat in ballingskap in Persië was, ook so gevoel het. Dit is in sulke tye dat 'n mens desperaat vra: “Waar is God dan in hierdie omstandighede? Kan Hy nie sien my bene is besig om onder my in te vou nie?”
 
En dan antwoord God jou persoonlik. Deur die Skrif. Net soos Hy in Jesaja 41:1-4 (1983-vertaling) met die profeet Jesaja 'n toekomsgebeure deel. Koning Kores II van Persië sal die Joodse ballinge na Jerusalem laat terugkeer – maar eers honderd en vyftig jaar later! (Lees 2 Kronieke 36:22-23 vir die storie) Dit ontlok vanselfsprekend vrae: Hoe is dit moontlik? Wie kan so iets bewerkstellig? Wie sal al die nasies aan Kores gee? God gee die antwoord aan wie ookal wil weet: “Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees.” (Jesaja 41:4b)
 
Niks het al gebeur, en sal ooit gebeur, sonder dat God daarvan kennis dra en reeds gereed staan met 'n plan van aksie nie. Dit geskied net nie altyd volgens jou plan of tydskedule nie. Die oplossing van jou draaibal naskok begin en eindig in en by die Here. Jou lewe het ook begin by die Here en dit gaan uiteindelik eindig by Hom. Vra jouself daarom voortdurend af: “Wie bepaal my koers? Wie het al die Woordbeloftes gedoen en deurgevoer?” Luister dan aandagtig om te hoor wat die antwoord is. “Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees.” (Jesaja 41:4b)
 
Hy is die enigste Een wat van onbepaalde tyd tot onbepaalde tyd bestaan. Hy is vir ewig die eerste. En by die laaste sal hy steeds die laaste wees – lewend vir ewig!
 
Gebed: Aan die Here, die Eerste en die Laaste: al die dank, lof en eer kom U alleen toe! Ek is veilig by U – my gister, vandag en alle môres van die toekoms, hou U veilig in u hand. Amen.