Carina Francke 

“God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon … Kolossense 1:19, 1983-vertaling
 
“Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.” Hebreërs 1:3a, 1983-vertaling
 
Die geboorte van ‘n nuwe baba ontlok gewoonlik meelewende “oe’s” en “a’s” by almal wat die nuweling kom bekyk. Dan volg die opinies: “sy Pa uitgeknip!”; “Mamma se gene daai!” En so lug elkeen ‘n mening oor die voorkoms, maar niemand kan op hierdie brose ouderdom raai na wie die kleinding gaan aard nie. Dit sal met sy of haar grootword duidelik word.
 
Met Jesus is dit egter anders, want Hy is die “beeld van God (Kolossense1:15) en “God het besluit om met sy hele wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen.” (Kolossense 1:19-20)
 
Die Geesgeïnspireerde Skrif beklemtoon verder die verhewe posisie van Jesus Christus. God het deur sy Seun die wêreld geskep en daarom is Hy (Jesus) “die Eerste, verhewe bo die hele skepping.” (Kolossense1:15b). Hy is gevolglik ook die “erfgenaam van alles gemaak.” (Hebreërs 1:2b) Die eenheid tussen God en Jesus word in geen onduidelike taal nie, uitgespel: “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.” (Hebreërs1:3) Geen wonder nie, dat Jesus alles deur sy magswoord in stand kan hou.
 
Daar is egter meer. Nadat Jesus die reiniging van ons sondes bewerkstellig het, het Hy aan die regterkant van sy Vader in die hemel gaan sit. Sy Vader verklaar dat Jesus sy Seun is, en Hy sy Vader. Hy herhaal dit, maar verskuif die klem: “Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader.”(Hebreërs 1:5a)
 
Goddelike woorde wat ouers ter harte kan neem. Pappas hou graag hul babakind vas en fluister die woorde: “Jy is my seun/dogter en ek is jou pappa.” Maar hoeveel pappas is gewillig om dié belofte na te kom? “Ek sál sy Vader wees, en Hy sál my Seun wees.” (Hebreërs 1:5b)
 
Wat wil die Woord met hierdie waarhede by ons tuisbring? Dat God en Jesus Christus een Godheid, een wese is. Onskeibaar, maar tog onderskeibaar. Anders gestel, Vader en Seun is in der waarheid Een plus Een is Een – die Godheid Self! Jesus is dus nie maar net die identiese verteenwoordiger van God nie, maar Hy is Self God!
 
En die goeie nuus is dat God kies om Homself aan jou, my en elkeen wat Hom wil ken, deur sy Seun, Jesus Christus, te openbaar. Hy is immers die finale openbaring van God aan die mens! Die enigste Een wat die Plus Een, steeds Een kan laat bly!
 
Gebed: My Hemelse Vader, dankie vir die onbetwisbare eenheid tussen U en u Seun Jesus Christus – vir ewig. Ons aanbid waarlik die Een God, die Een Seun wat van begin tot einde is, was en sal wees. Amen.